Verskeie dorpe in die Vrystaat gaan om uiteenlopende redes reeds ’n geruime tyd onder ’n waterkrisis gebuk, en die voortslepende beurtkrag vererger die situasie.
Maandag (10/10) moes inwoners van Bethlehem in lang rye staan om water by tenkwaens te tap.
“Die skole het dié week begin, en die watertekort is ’n uitdaging nie net vir die inwoners nie, maar ook vir koshuise en die kinderhuis in die dorp,” sê Isoldé Laesecke, onafhanklike raadslid van die Dihlabeng-munisipaliteit.
“Dan praat ons nie eens van die ouetehuise en hospitale wat nie sonder water kan klaarkom nie.”
In Bethlehem is dit veral die hoogliggende gebied wat die swaarste deurloop.
Tshediso Maitse, munisipale woordvoerder, het in ’n persverklaring Sondag gesê dat die pompstasie by die Saulspoort-suiweringsaanleg beskadig is. Dit wil voorkom asof boosdoeners Saterdag omstreeks 21:20 die pompstasie geplunder het en dat van die kabels beskadig is.
Herstelwerk is Sondag hier begin.
Intussen het die munisipaliteit ’n klag by die polisie ingedien. Enigeen met inligting oor die voorval word gevra om hulle te kontak.
Terwyl die herstelwerk gedoen word, moet die munisipaliteit die kleppe toedraai en kan geen suiweringswerk plaasvind nie.
Boonop moet die dorp se water vanaf die Saulspoort-suiweringsaanleg na hoërliggende opgaardamme gepomp word, en weens die gebrek aan kragtoevoer is dit ’n onbegonne taak.
Intussen het die munisipaliteit aangekondig dat die vervanging en herstel van infrastruktuur in die munisipaliteit se bedieningsgebied op dreef is. Dit beteken waarskynlik dat, benewens beurtkrag, hierdie soort uitdagings ’n geruime tyd deel van alle inwoners se lewe gaan wees.
Die munisipaliteit het ’n beroep op inwoners gedoen om water so ver moontlik spaarsamig te gebruik, ter wille van alle inwoners.