Dorp deel wenresep

Kroonstad, Kwêla se Dorp van die jaar vir 2022, het onlangs in Robertson gekuier om wenke en inspirasie te deel.


Kroonstad, Kwêla se Dorp van die jaar vir 2022, het onlangs in Robertson gekuier om wenke en inspirasie te deel.

“Eenheid, begin met klein oorwinnings en werk met ’n plan,” was die kernboodskap toe André van Pletzen van Ignite and Revive Kroonstad dié Wes-Kaapse dorp besoek het.

Hy het vertel hoe sleg dit tot onlangs in Kroonstad gegaan het. Riool het in die Valsrivier tot in die Vaalrivier afgeloop, massiewe bedrae is aan die munisipaliteit geskuld en eenheid tussen sosio-ekonomiese en rassegroepe het nie bestaan nie.

Desondanks is Kroonstad in Julie as die dorp van die jaar aangewys.

Hoe het hulle dit reggekry; hoe het hulle hul dorp omgedraai, was die vraag op almal se lippe gedurende Van Pletzen se besoek.

“Inwoners moet besluit: Dit is my dorp hierdie en dit gaan nie verder nie,” het Van Pletzen beklemtoon.

“Robertson kan met ’n Nehemia-hart, samewerking en klein, maklike oorwinnings in Kroonstad se voetspore volg.”

’n Nehemia-hart verwys na die storie van die Bybelfiguur Nehemia wat Jerusalem herbou het. Hy was ’n planmaker en ’n doener.

“Saam kan baie gedoen word. Dit is nie maklik nie, maar deur hande te vat – ook oor ras- en sosio-ekonomiese grense heen – is noodsaaklik,” het Van Pletzen gesê.

“Klein oorwinnings bou en behou momentum, skep eienaarskap en bring groter suksesse.”

Van Pletzen het afgesluit deur Robertson uit te daag om Kroonstad te volg, hoop te skep en verandering mee te bring.

“Nie net vir Robertson nie, maar die Breedevallei as geheel”.


JP Myburg

You need to be Logged In to leave a comment.