Dorp blom met uniekheid

Rosendallers spog nou met hul eie, unieke roos, wat deur die dorp se asemrowende sonsondergange geïnspireer is.

Rosendal spog nou met sy eie roos, wat deur die dorp se asemrowende sonsondergange geïnspireer is. ’n Floribunda wat amper soos ’n Iceberg-roos is, en wat as ’n bosagtige roos met ’n perske- en koraalagtige kleur beskryf word, is die een waarop daar vir Rosendal besluit is.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Rosendallers spog nou met hul eie, unieke roos, wat deur die dorp se asemrowende sonsondergange geïnspireer is.

Rosendal bedryf ’n onafhanklike dorpsraad met plaaslike gemeenskapslede, en daarom is hulle genoodsaak om geld­insamelingsprojekte aan te pak.

Op ’n dorpsraadsvergadering is voorstelle versoek vir maniere om geld in te samel.

Dit is toe dat Sonja Labuschagné, voormalige sekretaresse van die dorpsraad, die idee noem om vir Rosendal sy eie roos te laat kweek. Dié rose sou dan verkoop kon word om die raad se geld aan te vul.

Labuschagné is deur die raad opdrag gegee om navorsing te doen oor die moontlikheid hiervan.

Sy het met Ludwig Taschner, eienaar van Ludwig’s Roses, kontak gemaak, en hy was opgewonde oor die voorstel.

Riglyne oor die kleur, soort en dat die roos in Rosendal se klimaat moet kan aard was van die vereistes wat uitgestippel is. Die raad wou graag die besonderse sonsondergange wat in die dorp ervaar word se kleur in die roos laat vasvang. Hulle wou ook ’n roos hê wat konstant sou blom.

Die ontwikkeling van só ’n spesifieke roos sou hulle ’n paar rand uit die sak jaag.

Taschner het aangebied dat die dorp een van die rose wat hy jaarliks op eie koste ontwikkel, as Rosendal se roos kan kies.

’n Floribunda wat amper soos ’n Iceberg-roos is, en as ’n bosroos met ’n perske- en koraalagtige kleur beskryf word, was die keuse vir die Rosendalroos.

Dit is ’n geharde soort roos wat perfek in die klimaatstoestande van Rosendal sal aanpas.

“Ons wou spesifiek ’n roos hê wat ’n mens in ’n pot kan plant, asook een waarvan die blare nie vinnig afval nie – en die roos moet sy volle potensiaal in ons omgewing kan bereik. ’n Roos wat vir ons klimaatstoestande ontwikkel is,” sê Labuschagné.

Bome van die Rosendalroos is reeds in die dorp aangeplant, en dit wil voorkom asof dié pragblom sy tuiste in die Oos-Vrystaat gevind het. Die dorpsraad hoop om kort voor lank die hele dorp vol te plant.

Die roos word ook reeds verkoop.

Die Rosendalroos word op die sosiale media bemark en is op Rosendal se plaaslike mark te koop.

’n Amptelike bekendstelling van die roos deur Taschner in Rosendal sal nog plaasvind.

  • Labuschagné is in KwaZulu-Natal gebore en getoë en was ook in Welkom en Petrus Steyn woonagtig.

As voormalige radio-omroeper by Maluti FM in Bethlehem het sy die Oos-Vrystaat leer ken en só het Rosendal stil-stil in haar hart ingekruip.

Toe die geleentheid hom voordoen, het sy die dorp haar nuwe tuiste gemaak.

Sy is werk nou as ’n klerk by die Rosendal-polisiekantoor.

Mense wat in die unieke roos belangstel kan Labuschagné by 072-326-2709 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.