Doelgerigte arbeid sal altyd vrug dra

Drie weke gelede sien ek in een van die bome in ons tuin ’n vreeslike gewerskaf. Toe ek ondersoek instel, sien ek ’n wewervoëltjie, die pragtige swartkeelgeelvink, hard aan die werk om nes te bou.


Drie weke gelede sien ek in een van die bome in ons tuin ’n vreeslike gewerskaf. Toe ek ondersoek instel, sien ek ’n wewervoëltjie, die pragtige swartkeelgeelvink, hard aan die werk om nes te bou.

Ek vergaap my aan sy kundigheid en hoe noukeurig en vinnig hy die nes aanmekaarsit.

So ’n week later hang daar drie nessies in die boomtop, en hy bou steeds. Hy vlieg heen en weer om boumateriaal te versamel.

Altesaam hang daar nou vyf nessies aan die boom. Toe die vink die vierde nes begin bou het, het hy wydsbeen, met elk van sy pootjies aan ’n ander tak, gehang.

Ek staan en dink toe by myself, nie net is die voëltjies baie hardwerkend, fluks en vinnig nie, maar ook akrobaties. Om sy balans so mooi te hou terwyl hy met sy snawel aan die bou en weef is, is ’n kuns op sy eie.

Twee dae later sien ek hoe die voëltjie verwoed die een nessie afbreek. Hy knip die draadjies van die nes met sy kort snawel totdat die nessie in ’n hopie op die grond lê.

Ek staan weer in verwonde­ring, dié keer oor die natuur en sy maniere, en wonder of die nessie dan nou nie goed genoeg was nie.

Hierna, ongeag die weer – of dit nou ’n bloedige warm dag is en of die wind uitermatig waai – en sommer so tussendeur die donderstorms en baie reën van die afgelope tyd, bou die voëltjie fluks voort om die nes wat hy afgebreek het te vervang.

My drie katte sit om my om ook die proses dop te hou. Ek weet hulle bewonder beslis nie die voël se boukuns nie.

Dit het my opnuut laat besef: Maak nie saak wat ons in die lewe moet trotseer nie, as ons gefokus bly op die einddoel, met deursettingsvermoë en harde werk, is enigiets moontlik.

Al moet ons soms die nessie weer afbreek en ongeag die mooiweer of onweer oorbou, die opofferings van harde werk sal vrugte afwerp.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.