Die bekende Bokkieweek word weer vanjaar in Kroonstad aangebied deur die organisasie Afrikaner Volkseie Sport (AVS) wat ook vanjaar sy 31ste bestaansjaar vier.
Sportspanne wat die geleentheid bywoon, verteenwoordig bykans alle provinsies in Suid-Afrika. In die week sal altesaam 743 netbal-, hokkie- en rugbywedstryde gespeel word.
Die geleentheid sal van Maandag 4 Julie tot Vrydag 8 Julie op die sportterreine van die Hoërskool Trio en omliggende skole aangebied word. Die openingseremonie sal Maandag om 17:45 by die voormalige Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) se sportveld plaasvind, waar Adam Tas as gaskunstenaar sal optree. Hekke open om 15:00 en besoekers is welkom om kampstoele vir die geleentheid saam te bring. “Ons is baie dankbaar vir die geleentheid waar ons kinders na hartelus kan meeding veral ná die Covid-19-pandemie,” sê ds. Peter Stans, uitvoerende hoofamptenaar, AVS.
Die openingseremonie asook die o.19-rugbywedstryde sal daagliks vir belangstellendes gestroom word.