As die liefde en passie vir gevegkuns in jou bloed is, kan niks jou keer om jou doelwitte in dié sportsoort te bereik nie.
Só reken Juan-Pierre Bosman (22), ’n karateka van Bethlehem.
“Ek leer graag nuwe tegnieke en neem deel aan verskillende gevegte om die adrenalien te laat pomp.”
Hoogtepunte in sy sportloopbaan sluit in sy besoek aan Ierland vir sy gradering vir ’n tweede dan en sy deelname aan die Japan Karate Shoto-federasie se wêreldkampioenskap in 2019, waar hy ’n bronsmedalje vir kumite verwerf het.
Dié soort prestasies verg toewyding en harde werk. Bosman, ’n lid van die Bethlehem-karateklub, word die afgelope 11 jaar deur sensei Gerhard Wächter afgerig.
“Ons oefen Maandae, Dinsdae en Donderdae by die klub, en die res van die week oefen ek by die huis of in die gimnasium om in toptoestand te bly,” sê Bosman.
“Karate kweek uithouvermoë en stamina, dissipline en respek. Hierdie eienskappe is uiters belangrik in enige gevegkuns.”
Bosman beskou sy ouers, Pieter en Annemie, as sy rolmodelle. Hulle het hom immers geleer om hard te werk en nooit moed te verloor nie.
Sy visier is nou gerig op voorbereiding vir sy deelname aan Karate Suid-Afrika (KSA) se nasionale byeenkoms, wat van 1 tot 4 April plaasvind.
Terwyl hy homself deur Unisa as onderwyser kwalifiseer, werk Bosman as ’n studentonderwyser aan die Laerskool Jordania in Bethlehem.
Sy doelwit is om al KSA se style te bemeester, en hy hoop om eendag sy eie karateklub te begin.