Vrystaat Landbou (VL) het die steun wat Amerikaanse president Donald Trump aan die Suid-Afrikaanse landbousektor toegesê het, verwelkom.
Trump het verlede week ’n uitvoerende bevel onderteken wat finansiering aan Suid-Afrika inkort. Dit volg pres. Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Onteieningswet in Januarie.
Die Amerikaanse president het ook sy steun getoon aan landsburgers wat as slagoffers van onregverdige diskriminasie op grond van ras beskou word, deur te sê dat Amerika “Afrikaner-vlugtelinge” in Amerika sal hervestig.
Suid-Afrikaners het die aankondiging met gemengde gevoelens ontvang.
Francois Wilken, VL-president, sê dit is vir die organisasie bemoedigend dat die Amerikaanse regering op die pleidooi van Suid-Afrikaanse boere ag geslaan het en erken het dat landbouers se veiligheid en eiendomsreg deur die ANC-geleide regering bedreig word.
“Die bewering dat pres. Trump en sekretaris Marco Rubio vandeesweek valslik beweer het dat die owerhede in Suid-Afrika besig is om private eiendom te konfiskeer, is self verkeerd. Die konfiskering van eiendom mag eindig in die werklike onteiening van grond, maar die proses begin reeds met beleid en wetgewing wat gevestigde eiendomsregte ondermyn of verswak,” sê Wilken.
“Die feit is dat Suid-Afrika se nuwe Onteieningswet staatsliggame in staat stel om grond en ander bates te onteien sonder om markverwante vergoeding te betaal.”
Volgens die VL is die terminologie wat Trump en Rubio gebruik het akkuraat, selfs al is spesifieke stukke grond in Suid-Afrika nog nie onteien nie.
“Die VL staan gereed om enige hulp en ondersteuning vir die landbousektor en ons boere te aanvaar. Veral wanneer die hulp deur Amerika en pres. Trump aangebied word.”
Trump het gesê dat boere en Afrikaners voorts vlugtelingstatus in Amerika sal geniet, en dit beskou die organisasie as ’n wekroep vir die regering, landbou-organisasies en alle gemeenskappe in Suid-Afrika. Die organisasie sê ook plaasmoorde en plaasveiligheid is al langer as 30 jaar ’n werklikheid.
“Geen pogings om die probleme hok te slaan het enige blywende resultate opgelewer nie. Boere staan weerloos teen die misdadigers wat vir dekades vee steel en groot dele van oeste plunder, terwyl die polisie nie in staat is om ons te help nie.”
Die VL sê die bogenoemde probleme word net ontken, weggepraat of geïgnoreer deur ’n politieke elite wat die land kaal stroop. Die organisasie reken die Onteieningswet bedreig die besittings, asook die ekonomiese voortbestaan, van die bedryf.
“Die VL staan gereed en wag om te sien hoe Suid-Afrika se boere en Amerika ’n opbouende pad saam kan stap om ons eie, en Suid Afrika, se toekoms te verseker.”