Waarom kla mense? Hier is ’n paar redes:
- Ondankbaarheid (Romeine 1).
Jy dink dat alles wat rondom jou gebeur, een doel het: Dit moet jou tevrede te stel. Hier is nuus. Daar is net een ding wat jou tevrede sal stel. Laat Jesus deur sy Gees in jou kom woon om jou ’n volledige mens te maak.
- Onrealistiese verwagtings.
Ons lewe in ’n era van: “As jy iets graag wil hê, kan jy dit kry”. Wanneer daar nie aan hierdie verwagtinge voldoen word nie, kla jy, want net die beste is goed genoeg. As jy sukkel hiermee, verdiep jou in die Woord. Dit is die riglyn vir jou lewe.
- Jou voorkeur is die “norm”.
Die standaard waaraan jy mense meet, is nie gepas nie. Is jou standaard ’n goddelike een? Die goddelike standaard is tevredenheid: “ . . .wees tevrede met wat julle het.” (Hebreërs 13:5) Wees eerder ontevrede wanneer dinge nie volgens God se standaard is nie.
- Hoogmoed.
Jy weet beter. As ander iets nie doen soos jy dit wil hê nie, kla jy, want jy glo jou idee is beter. Die hoogmoedige mens moet sterf. Lewe vir Christus se eer en nie jou eie nie.
- Ongeloof.
Jy glo God nie as Hy sê dat Hy jou nooit in die steek sal laat nie (Hebreërs 13:5); dat Hy altyd vir jou van alles genoeg sal gee nie (2 Korintiërs 9:8); en dat alles ten goede meewerk nie (Romeine 8:28).
In Filippense 2:14 staan: Doen alles sonder kla of teëpraat.
Is dit nie dalk tyd om jou klakouse uit te trek nie?
Gebed
Here, help my om minder te kla. Amen
- Müller is leraar aan die NG moedergemeente Kroonstad.