Meer as ’n maand het verloop sedert die uitvoerende burgemeester van die Dihlabeng-munisipaliteit, Tseki James Tseki (43), weens beweerde bedrog en ander ongerymdhede in die hof verskyn het.
Tseki is steeds in diens van die munisipaliteit, hoewel raadslede vroeër in Julie ’n versoek aan die raad gerig het dat ’n komitee saamgestel word om die bewerings van korrupsie te ondersoek of dat Tseki vrywillig bedank.
Tseki en die voormalige munisipale bestuurder, Busa Petrus Moletseli (57), is in Junie deur die Valke in hegtenis geneem vir beweerde bedrog, diefstal, korrupsie, geldwassery en die oortreding van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur.
Albei is op borgtog van R5 000 vrygelaat.
“Die feit dat hierdie oortreding verband hou met munisipale geld wat betaal is, en met inagneming van Tseki se vertrouenspligte soos in wetgewing uiteengesit, is dit uiters belangrik dat ‘n komitee saamgestel word om die bewerings te help ondersoek sodat die saak spoedig afgehandel kan word,” sê Hilton Maasdorp, voorsitter van die DA-koukus in Bethlehem.
“As Tseki vrywillig uit sy pos as uitvoerende burgemeester onttrek, hoef ’n ondersoekkomitee nie saamgestel te word nie, wat koste sal bespaar.”
Maasdorp sê die Dihlabeng-munisipaliteit kan nie verder geld verkwis om die regerende party se korrupsie te ondersoek nie, en daarom het die party ‘n brief aan die speaker van die munisipaliteit gerig om druk toe te pas sodat Tseki bedank en dat verdere ongerymdhede hokgeslaan kan word.