Die manier waarop herstelwerk aan waterpype in Kroonstad gedoen word, het verskeie sakeondernemings op die dorp warm onder die kraag. In Oranjestraat is ’n enorme gat in die sypaadjie gegrawe om ’n waterlekplek te herstel. Die gat is sedert 28 Desember oop gelaat, sonder waarskuwingstekens.Foto: verskaf

Credit: SYSTEM

Die herstel van watertoevoerpype in die Moqhaka-munisipaliteit laat verskeie sakeondernemings in Kroonstad met hul hande in hul hare.

“Ons het verskeie klagtes ontvang van sakeondermemings in die dorp oor die manier waarop die munisipaliteit die gebarste waterpype herstel. Groot gate word gegrawe om die herstelwerk te doen, en dan neem dit soms maande voordat die gat toegegooi word,” sê Lousanne van Heerden, raadslid in die munisipaliteit.

In Oranjestraat is daar ’n enorme gat in die sypaadjie voor ’n onderneming. Dié gat is ook nie afgesper nie.

Eienaars van ondernemings in die straat is bekommerd oor die veiligheidsrisiko wat dit vir werknemers en kliëinte inhou.

Verdere klagtes is ontvang dat wanneer die gate wel deur die munispaliteit toegegooi word, die gebied nie ten volle herstel word soos voordat die gat gegrawe is nie.

Van Heerden sê die VF Plus het herhaaldelik by die portefeuljekomitee van infrastruktuur kwessies geïdentifiseer wat voorkeur moet geniet.

Hulle het ook voorstelle aan die raad voorgelê om die opruimingswerk ná herstelwerk te bespoedig sodat ondernemings nie geldelik skade lei nie.

Groot, oop slote in Oranjestraat, by die S-brug op die hoek van Bukes- en Jacobstraat, Almund Weber- en Maraisstraat, asook voor die ingange van dokters en fisioterapeute se praktyke is op verskeie geleenthede aangemeld.

Louis Visser, eienaar van die gebou waar die groot gat in Oranjestraat gegrawe is, sê dié gat is op 28 Desember oopgegrawe om ’n waterlekplek te herstel en die gat is nie weer opgevul nie.

“My huurders is hoogs ontstoke en sê die gat hou vir hulle, asook hul kliënte, ’n groot gevaar in – hulle verloor klandisie omdat die ondernemings ontoeganklik is,” sê Visser.

Die woordvoerder vir die Moqhaka-munisipaliteit, Dika Kheswa, het op navraag gesê hy sal by die betrokke afdelings oor die stand van sake navraag doen en terugvoering gee.

By die Northern Free State Caregivers (NFSCG) se kantoor, op die hoek van Truter- en Kollerstraat, is die gat waar herstelwerk gedoen is ná baie druk deur die munisipaliteit toegegooi.

Felicity Combrinck van die NFSCG moes eindelik die plaveisel egter op haar eie koste laat herstel.

Munisipale werkers het ook ’n naambord van die NFSCG beskadig met masjinerie wat hulle gebruik het om die gat te grawe. Hulle het glo beloof om dit reg te kom “kap”, maar tot dusver geen poging aangewend om dit te herstel nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article