Ná 52 jaar as geneesheer in Kroonstad het dr. Johan Goosen die tuig neergelê.
Hy het op 15 Desember afgetree en beplan om nou meer aandag aan sy boerdery te gee.
Dié boorling van Barkly-Oos het sy grootwordjare in Bloemfontein en Pretoria beleef.
Nadat hy aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria matrikuleer het, het hy homself aan die Universiteit van Pretoria as dokter bekwaam.
Gedurende sy gemeenskapsdiensjaar by die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad het hy verloskunde en noodhulp aan studente in verpleegkunde doseer.
Dr. Coen Brink, ’n oudkollega, beskryf Goosen as ’n besonderse huisdokter in murg en been.
“Op ’n keer het Johan in die middel van die nag ’n oproep ontvang van ’n pasiënt wat kwansuis hulp nodig gehad het met ’n ‘spook’ in sy huis,” vertel Brink.
“Die meeste ander dokters sou hierdie oproep bloot ignoreer het, maar nie Johan Goosen nie.
“Hoewel hy met sy besoek geen spook gevind het nie, kon hy wel vasstel dat die pasiënt ’n angsaanval gehad het.”
Elke pasiënt het Goosen se onverdeelde aandag geniet.
Ondanks sy bedrywige leefwyse en veeleisende beroep kon hy steeds tyd afknyp om die Comrades-wedloop tien keer te voltooi en sodoende sy permanente nommer te verwerf. Dié sportgeesdriftige kyk graag allerlei sportuitsendings.
Goosen het ’n groot liefde vir diere en boer met watervoëls. Hy geniet steeds die oop ruimtes en skoon lug wanneer hy op sy plaas is.
Vir sy boek Wol en die Wolbedryf het Goosen ’n kleurbaadjie van die destydse Suid-Afrikaanse Wolraad ontvang.
Goosen het vier kinders: Gert, Johan, Christelle Botha en Marethe O’Reilly. Sy kinders en kleinkinders lê hom baie na aan die hart.
Sy toegewyde diens oor die jare heen word deur inwoners, pasiënte, kennisse, vriende en familie erken.
Hy word ’n voorspoedige en geseënde aftrede toegewens.