Diefstal nie gestuit

Kabeldiefstal het in die Dihlabeng-munisipaliteit kop uitgesteek en word nou ’n kommerwekkende uitdaging vir dorpe hier. Dit is veral Paul Roux en Rosendal wat geteister word.


Kabeldiefstal laat inwoners sonder krag

Kabeldiefstal laat inwoners van Paul Roux sonder krag

Kabeldiefstal het in die Dihlabeng-munisipaliteit kop uitgesteek en word nou ’n kommerwekkende uitdaging vir dorpe hier. Dit is veral Paul Roux en Rosendal wat geteister word.

In die afgelope sewe dae is Paul Roux twee keer deur kabeldiefstal geraak, en die gevolge daarvan was dat die inwoners twee dae lank sonder krag gelaat is.

“Dit is nie net kabeldiefstal nie. Die substasies word ook gesaboteer. Die DA het die plaaslike munisipaliteit op verskeie geleenthede versoek om die sekuriteit veral by die substasies op te skerp, maar die voorstel het op dowe ore geval,” sê DA-raadslid Willie Theunissen.

Theunissen voeg by dat die polisie van die kabeldiefstal bewus is en help waar hulle kan, maar weens onvoldoende mannekrag is dit vir hulle nie moontlik om die probleem onmiddellik hok te slaan nie. Inhegtenisneming wat in die verlede gedoen is, het munisipale werkers ingesluit.

Theunissen sê in Bethlehem help die private sekuriteitsfirmas om kabeldiefstal te bekamp, maar die kleiner dorpies is absoluut aan hul eie genade oorgelaat. Skrootwerwe word gereeld gemoniteer en moontlike verdagte optrede word deur bekommerde inwoners aangemeld, maar dit is bloot nie genoeg om die diewe af te skrik nie.

“Wanneer die munisipaliteit, polisie en die gemeenskap saamwerk, kan diegene wat in kabeldiefstal handel, geïdentifiseer word en só kan die onwettige bedryf stopgesit word,” sê Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaatse wetgewer.

Die gemeenskap word versoek om verdagte bedrywighede by hul naaste polisiekantoor aan te meld.

VrystaatKroon het navrae rakende die kabeldiefstal aan die polisie gerig, maar teen die koerant se druktyd nog geen antwoord ontvang nie.

You need to be Logged In to leave a comment.