Die winde van verandering steek op

Ek sit en tuur deur die venster na buite ná ’n gesprek met my jongste oor sy planne om sy vlerke heel moontlik oorsee te sprei.


Ek sit en tuur deur die venster na buite ná ’n gesprek met my jongste oor sy planne om sy vlerke heel moontlik oorsee te sprei.

Dit is ’n emosionele gedagte vir enige ouer. Ek sal egter aan die gedagte gewoond moet raak indien sy planne verwesenlik.

In my enigheid weet ek dat dit belangrik is om die kinders aan te moedig en te ondersteun om hul drome na te jaag.

Dit is nie regverdig om hul drome te kelder weens jou vrese en bekommernisse as ouer nie.

Hoewel om die wye wêreld in te vaar nou nie bo-aan ons lys was van dinge wat moet aandag kry nie, word die gedagte dalk my werklikheid.

Die gesegde lui mos “the world is your oyster” X daar wag ’n wye wêreld op jongelinge met hope geleenthede en wedervaringe.

Gun die kinders dit om hul vlerke te sprei en die wêreld daar buite te verken.

Almal weet weens ’n tekort aan geleenthede is dít die norm wat deur baie Suid-Afrikaners gevolg word. Om oorsee te werk skep goeie toekomsverwagtinge en geleenthede wat hulle nie op tuisbodem beskore is nie.

Die idee om in ’n nuwe omgewing te wees, nuwe mense te ontmoet en ’n ander kulture te ervaar, is selfs vir my aanloklik.

Dan is daar die invloed van die sosiale media en die digitale era. Dit skep bewusmaking van geleenthede en leefstyle wat in ander lande beskikbaar is. Dit is asof die kinders reeds deel van die groter prentjie is en dit wil ervaar.

Of dit nou elke dag ’n goeie ding sal wees, weet ek nie X maar dat hulle goeie ervaring en blootstelling op soveel vlakke gebied sal word, kan ek nie mee stry nie.

Daarom sal ek dan berus op die idee van die wêreld as ons speelveld. Die buitewêreld wink vir die kind en herinner my dat ek hom moet ondersteun indien hy die geleentheid gebied word om sy vlerke te sprei.

Saam met die koffie sluk ek maar die bitter pil.

You need to be Logged In to leave a comment.