Sodra Desember aanbreek, is dit asof die atmosfeer wesenlik verander. Die einde van ’n baie besige jaar – dalk een vol leë beloftes, of een van baie blydskap en voorspoed.
Daar is ’n gewoel van bedrywighede om gereed te maak vir die Desembervakansie. Dié wat met vakansie gaan se motors word vir die langpad nagesien, en kratte kreun behoorlik onder al die lekkernye wat saamkarwei moet word.
Kinders maak seker ouers is bewus van hul wense vir Kersfees en dat Kersvader die boodskap sal ontvang. Dié wat met Jan Tuisbly se karretjie ry, maak lysies van take wat by die huis afgehandel moet word, in die hoop dat dit nie volgende jaar steeds op die lys sal wees nie.
Maak nie saak hoe jy jou Desember deurbring nie, elkeen van ons het op sy eie manier ’n opgewondenheid en verwagting van voorspoed, hoop en vrede.
Christene kyk verby die geskenke. Hulle kyk na die krip. Daar waar die grootste geskenk vir elke mens op aarde gelê het en deur die wyse manne besoek is. Die vrede wat vir elkeen op aarde gegee is, is ook deur ’n duur prys betaal.
Met die feestyd word bande weer versterk en kuier families saam. Strydbyle word begrawe, en ander dalk weer opgegrawe.
Hoe dit ook al sy, die feestyd het ’n manier om by ons almal ’n ongekende opgewondenheid aan te wakker.
Dit was vanjaar weer opmerkbaar tydens die jaarlikse Kerssangdienste, waar oud en jonk uit volle bors en met meelewing gesing het. Waar ons opnuut besef het dat dit net God se genade is wat ons deur die jaar gedra het.
Mag die feestyd vir elkeen die belofte van Johannes 14:18-20 bevestig: Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe. Nog ’n klein rukkie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. Daardie dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle.
’n Geseënde Kersfees en Desember aan al die lesers.