Wat sou jy sê is die een ding wat nou die nodigste in jou lewe is?
Dalk ’n vakansie, ’n klomp geld, ’n deurbraak ten opsigte van die een of ander krisis, genesing of ’n verhouding?
Elkeen het dadelik iets in gedagte.
Jakobus leer ons egter dat ons bo alles anders die Here se genade nodig het.
God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade (Jakobus 4:6).
Soveel omskrywings bestaan reeds van wat presies God se genade behels.
Genade word altyd met die guns en goedheid van God in verband gebring.
God se guns wat Hy oor jou uitstort en sy goedheid wat Hy aan jou gee – dit is sy genade vir jou.
Guns behels dat iemand van jou hou; dat jy vir hulle belangrik is. Daar is ’n spesiale kyk in hul oë; ’n kyk wat sê “ek hou van wat ek sien”.
Soveel te meer geld dit vir God se guns. Hy kyk na my met voorkeur, nooit met afkeur. Wat ’n ongelooflike gedagte. Dat die heilige God na my – al my foute, sonde, tekortkominge en ongehoorsaamheid – kyk en steeds sê: “Ek hou van wat ek sien”.
Dit is genade, onverdiende guns en onbeskryflik spesiaal. Boonop ontvang ons dit gratis.
Ons kan dit nie koop nie, ons kan nie daarvoor werk nie, ons kan dit nie behaal nie.
Ons kan dit nie verdien nie.
Voorwaar het God aan ons genade onbeskryflik groot bewys.
- Weideman is leraar aan die NG kerk Kroonheuwel-Noord.