Elizbé Heyns (17), netbalkaptein: Hoërskool Voortrekker.
“Dit is my missie om my span te lei, te motiveer, te ondersteun en te dryf om die heel beste weergawe van hulself te wees – ook in moeilike tye op die netbalbaan sodat hulle hul koppe sal oplig, krag sal kry om nog harder te werk vir dit wat ons wil bereik as span.”
Elizbé sê haar hoogtepunt in die afgelope netbalseisoen was vir seker om te sien hoe die meisies in haar span mekaar ondersteun in elke wedstryd.
“Maak nie saak hoe moeg hulle was nie, hulle het mekaar aangemoedig en hul beste gegee.”
Vir haar is ’n goeie leier iemand wat na die opinies van ander kan luister, wat uitvind hoe almal oor ’n situasie voel om so dan ’n goeie keuse vir die span te kan maak.
“ ’n Leier moenie oorheers nie, ’n leier moet daar wees vir almal en dit is hoe ’n leier respek verdien.”
As ’n matriekleerling en kaptein is die derby vir haar beslis ’n hoogtepunt en hulle wil voluit gaan in hul laaste wedstryd. Elizbé beplan om haar span kalm te hou. Sy glo wanneer iemand kalm is, is hul kanse baie beter om hul doelwitte te bereik en sukses te behaal.