Die gasspreker op vanjaar se glansryke Vrystaatse Sportster van die Jaar-eerbewysgeselligheid, is die afrigter van die Banyana Banyana, Desiree Ellis.
Ellis, ’n voormalige speler vir Suid-Afrika se vrouesokkerspan en ook destydse kaptein van die span, het pas teruggekeer van die Fifa Sokkerwêreldbeker in Australië waar die span ’n geskiedkundige wedstryd in die groepfases teen Italië gewen het.
Danksy dié wedstryd het hulle die eerste Suid-Afrikaanse vrouespan geword om ’n wedstryd te wen én boonop deur te dring na die ronde van 16.
Frans Steyn, 2022 se Sportster van die Jaar, tweemalige Rugbywêreldbeker-wenner en ’n sportster afkomstig uit dié provinsie, sê erkenning aan opkomende atlete van veral die platteland wat die provinsie se naam in die land of internasionaal hoog hou, is belangrik.
Steyn is op die bekroningsaand nie net as Sportman van die Jaar nie, maar as wenner van die trofee van Sportster van die Jaar aangewys.
Steyn meen dit is veral belangrik dat kinders en jong mense se deursettingsvermoë en voorbereiding erken word. “Dit moedig hulle aan.”
DB Prinsloo, voormalige direkteur van KovsieSport, beaam dat die erkenning van prestasies soos op Vrystaatse Sportsterre veral vir leerlinge belangrik is.
“Hulle kry erkenning vir die harde ure wat hulle reeds aan hul passie gewy het. Dit motiveer hulle om selfs nóg harder te werk om hul sportdrome te verwesenlik,” sê hy.
Hou Sentraal24 se gemeenskapskoerante Bloemnuus, Express, Vista en VrystaatKroon dop vir meer inligting oor vanjaar se benoemings en ander inligting oor die aand.
Kaartjies is teen R440 of R4 400 per tafel van 10 beskikbaar vir die glansaand by Monte Bolle in Bloemfontein. Die verrigtinge sal om 18:00 vir 18:30 begin.
Bespreek kaartjies en kry meer inligting by Ainslee Oosthuyen by 074-120-4450 of stuur ’n e-pos na ainslee@spottedapple.co.za.