Derby ’n uitstalvenster

Derby ’n uitstalvenster


“We can only be said to be alive in those moments when our hearts are conscious of our treasures.”

– Thornton Wilder

In die aanloop tot die Derby van 2022 is bogenoemde woorde die kern van my boodskap vir hierdie besondere geleentheid. In die afgelope twee jaar het ons werklik eers besef hoe bevoorreg ons in die verlede was, nadat byna alles van ons weggeneem is. Ek sien ongelooflik uit na die uitbundige deelname van ons kinders op die sportvelde, paviljoene en om sommer net die voorreg van jonk wees te kan vier. Ek is ook baie dankbaar dat ons weer ons ouers en gemeenskap mag toelaat om die leerlinge te kom ondersteun langs die veld en vanaf die paviljoene.

Dit is dus vir my ‘n voorreg om die hele gemeenskap uit te nooi om hierdie tradisionele dag saam met ons twee skole op Voortrekker se terrein te beleef. My wens is dat ons meedoënloos sal kompeteer op die sportveld, maar met waardigheid en gesonde sportmangees uit die stryd sal tree. Dit is immers die roeping en opvoedingstaak van ons as onderwysers en ouers.

Dankie aan al die ouers, onderwysers, afrigters en leerlinge vir u betrokkenheid gedurende ure se oefening, wedstryde en vakansietoere ter voorbereiding vir die seisoen. Die passie en entoesiasme waarmee ons Voortrekkerfamilie enige iets aanpak, is aansteeklik en eie aan ons skoolkultuur. Baie dankie aan al die borge wat hierdie belangrike deel van ons kinders se ontwikkeling moontlik maak. U bydrae word opreg waardeer. Hierdie jaar vier Voortrekker sy 120ste bestaansjaar; ons kyk met nederige dankbaarheid terug oor dekades van uitnemendheid, hoogtepunte en soms ook laagtepunte. Uit hierdie terugblik besef ons dat die uitleef van ons skoolleuse “Non sibi sed Patriae – nie vir myself nie, maar vir my Vaderland” nou selfs nog meer relevant is as in die verlede.

Ons is dankbaar vir die seën en genade wat ons as skoolgemeenskap uit die Vaderhand ontvang het; daarom bou ons met groot optimisme en geloof voort op ‘n blink toekoms. Geleenthede soos die Derby skep vir ons die platform om die lewe te vier, want dit is daar waar ons die skatte vind wat vir ons belangrik is en wat ons vorm vir die toekoms. Kom en wees deel van hierdie uitstalvenster van Bethlehem se uitnemende hoërskoolgemeenskap.

Soos altyd sluit ek af met die nie-amptelike leuse van Voortrekker, naamlik:

“Dit is lekker in Voortrekker!”


Gys Coetzee, skoolhoof

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.