Die grens tussen die Vrystaat en Lesotho is een van die gebiede waar hondsdolheid algemeen voorkom.
Luidens ’n verklaring het die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling inwoners en vakansiegangers gevra om nie rondloperhonde en ook vreemde katte te hanteer of te huisves nie, veral nie in hoërisikogebiede nie.
Hondsdolheid is veral algemeen in KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga, asook die grens tussen die Vrystaat en Lesotho.
Reggie Ngcobo, woordvoerder van dié departement, sê die kusgebiede van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap is ’n besonder hoë risiko vir hondsdolheid.
“Wanneer jy rondloperdiere optel en hulle huisves, kan jy hondsdolheid na ander gebiede en provinsies help versprei en stel jy jou lewe en dié van jou gesin in gevaar. Mense word aangemoedig om eerder rondloperdiere by die plaaslike Dierebeskermingsvereniging of ander dierewelsynorganisasies aan te meld. Onthou dat hondsdolheid enige plek in Suid-Afrika kan voorkom. Vermy dus die hantering van diere wat jy nie ken nie.”
“As jy vermoed dat jy blootgestel is aan ’n dier wat dalk hondsdolheid het, is dit uiters belangrik om die wond baie goed met seep onder lopende water skoon te was en dadelik voorkomende behandeling by jou naaste dokter of hospitaal te soek. As jy dit doen, kan jy jou lewe red,” sê Ngcobo.