God het Homself op die berg aan Moses openbaar.
Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou” (Eksodus 34:6).
Dit is die woorde waarmee God Homself beskryf.
Hy is vol deernis.
Ander woorde wat dié gesindheid beskryf, is jammerte, simpatie, empatie, omgee, sensitiwiteit, liefde, sagtheid, genade, goedheid, menslikheid en liefdadigheid.
Dit beskryf die gesindheid om ander se swaarkry te deel en help dra, sonder om iets terug te verwag.
Ons sien dit in Jesus se lewe.
Voor die viering van die paasfees het Jesus reeds geweet dat die tyd vir Hom gekom het om van hierdie wêreld af na die Vader oor te gaan. Hy het sy eie mense wat in die wêreld is, liefgehad, Hy het hulle tot die uiterste toe liefgehad (Johannes 13:1).
’n Illustrasie van sy liefde is die genesing van siekes, maar die grootste voorbeeld bly Johannes 3:16: God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Soos ons hemelse Vader moet ons ook met deernis leef. As ons so vrygewig soos Hy is, sal dit vreugde bring.
Ken jy vreugde? Enige van dié gesindhede sal jou vreugde steel: veroordeling, ongevoeligheid, onbesorgdheid, onsensitiwiteit, liefdeloosheid, ongenadigheid, kwaaiheid en onbarmhartigheid.
Leef eerder met deernis-vreugde.
- Els is leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.