Wat ’n voorreg om ná twee jaar weer die gejuig van ’n skare, die gedruis van spelers voor ’n wedstryd en die afwagting van die eerste blaas van die fluitjie te beleef.
Om te sien hoe grense verskuif en harde werk beloon word – dit is genade.
Vanjaar vier Hoërskool Witteberg ons 50ste bestaansjaar, en dit is ’n groot voorreg om dit saam met die gemeenskap te vier.
Vyf jaar van ’n hoërskoolloopbaan is geleende tyd. Ons vertrou dat elke leerling tydens die derby van 2022 die oomblik ten volle sal vasvang en dit geniet.
Vir ons is dit belangrik dat elke kind, van elke skool, waardig sal voel om sy skool te verteenwoordig, en dat hul bydrae tot spansport opbouend beloon word deur die toeskouers.
We trust that each and every supporter will enjoy the day and not be disappointed in the spirit with which our learners present themselves.
Always remember that such a day is accompanied by huge expectations and pressure. Let us embrace the fact that every player is willing to give his or her best.
Baie dankie aan elke Witteberger en lid van die Bethlehem-gemeenskap wat hierdie dag moontlik maak. Ons weet dat afrigters en hulpe talle ure bestee het om ons spanne vir die groot geleentheid voor te berei. Daarvoor is ons opreg dankbaar.
Ons waardeer ook elke skeidsregter en beampte wat tydens die derby gaan werk. Baie sterkte met u taak, en mag u ook die toewyding en trots van ons leerlinge beleef.
Aan mnr. Gys Coetzee en al die Trekkers: Dankie vir die geleentheid om ook in jul 120ste bestaansjaar teen julle mee te ding. Ons is bewus wat dit behels en weet hoeveel moeite jul beplanning verg.
Mag die gejuig ná elke wen en die omhelsing ná elke nederlaag ons deurgaans aan die waarde van deelname herinner.
Mag ons nooit vergeet hoe kinders na vreugde en aanvaarding hunker nie.
Mag elke ouer tydens die dag u kind glimlaggend aanskou en op hulle trots wees.
Mag oomblikke vasgevang word in tyd, en mag tyd vir sommige stilstaan.
Dit alles is net genade.
Vooruit – Voluit – Vir altyd.