Die Bethlehemse DBV se passie en toewyding is om na die welsyn van diere om te sien. Dié tak van die nasionale vereniging lewer al bykans 50 jaar dienste in Bethlehem, Clarens, Fouriesburg, Paul Roux en Rosendal.
Die DBV is ’n nie-winsgewende organisasie wat van skenkings en geldinsameling afhanklik is. Benewens ondersteuning deur skenkings, kan lede van die publiek as vrywilligers na die diere help omsien.
Die organisasie maak ook op die goedhartigheid van plaaslike veeartse staat vir bystand met die sterilisasie van diere wat aangeneem word.
Weens die groot gebied wat bedien word, is die uitgawe per maand sowat R70 000. Dit sluit in geld wat uitgegee word op veeartsenydienste, brandstof, dierekos, skoonmaakmiddels, salarisse en dag tot dag bedrywighede in. In die winter is elektrisiteit, dierekos en komberse ’n groot noodsaaklikheid.
Die DBV neem honde, katte en ander diere in. Daarom doen die vereniging gereeld ’n beroep op die publiek om diere aan te neem. ’n Proses word hiervoor gevolg, en die inspekteurs doen eers ’n huisbesoek om te verseker dat daar aan al die vereistes voldoen word.
Die Bethlehem-tak staan onder leiding van Corlene van der Merwe (voorsitter), Marius Dreyer (ondervoorsitter), Mariana Hintze (tesourier) en Martin Dreyer (skakelbeampte), asook komiteelede.
Die DBV beskik oor ’n gekwalifiseerde inspekteur, leerling-inspekteur, veldoffisier, leerling-veldoffisier, vier dierewelsyn-assistente en ’n hok-inspekteur, wat deur die Raad van Nasionale DBV’s en die Suid-Afrikaanse Veeartsraad opgelei word.
“Goed opgeleide inspekteurs is van kardinale belang omdat hulle baie uitdagings moet trotseer en in howe moet getuig,” sê Van der Merwe.
’n Opgeleide inspekteur beskik oor kwalifikasies wat dit moontlik maak om oordraagbare siektes onder diere, asook siektes wat van dier na mens oorgedra word, en die basiese behandeling daarvoor te identifiseer. Hulle kan ook inentings toedien en genadedood toepas.
Besoek die DBV se kantoor by Wittebergstraat 4 op Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 16:00; en Saterdae van 09:00 tot 12:00, of skakel 058-303-3998. Vir noodgevalle skakel 083-629-6403.