Ons word meestal geleer om rasionele en praktiese besluite te neem. Berekenings oor die toekoms moet gedoen word. Risiko’s moet deeglik bestuur word, asof ons beheer het.
Sulke raad is nie sonder waarde in ’n wêreld vol komplekse gebeure nie.
Tog leef gelowiges ook anders. In 2 Korintiërs 5:7 lees ons ons leef deur te glo en nie deur te sien nie.
Hebreërs 11 het twee goeie voorbeelde hiervan. In Hebreërs 11:7, omdat Noag geglo het, het hy God eerbiedig gehoorsaam toe hy gewaarsku is oor dinge wat nog nie gesien kon word nie. Daarom het hy die ark gebou om sy huisgesin te red. In Hebreërs 11:8, omdat Abraham geglo het, het hy gehoor gegee toe God hom geroep het om weg te trek na die plek toe wat hy as erfdeel sou ontvang. Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom.
Daar sal altyd konflik en spanning wees tussen die dinge wat God vra en die dinge wat realisties, logies en selfs prakties is.
Hy is egter die werklikheid. Hy beheer die toekoms en skep goeie lewe as ons sy teenwoordigheid belangriker as menslike denke en wêreldse sienings ag.
Geloof weet nooit waarheen jy gelei word nie, maar dit ken die Een wat leiding neem en wandel in liefde saam met Hom, het Oswald Chambers geskryf.
Gebed
Here Jesus, ook U het dinge gedoen wat nie vir U volgelinge sin gemaak het nie. Dankie dat U gehoorsaam was aan Vader sodat redding kon plaasvind – ook vir my. Laat ek dan so glo. Amen.
- Els was voorheen oudleraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.