Rubriek: Dankbare lewe is lig en ryk

Dankbaarheid is die manier waarop ons op genade reageer.


Dankbaarheid is die manier waarop ons op genade reageer.

Daarom klink die waarheid oor die Koninkryk van God soos 1 Tessalonisense 5:18 lees: Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.

Het jy gehoor wat is God se wil?

Dat ons in alle omstandighede dankbaar sal wees. As God se wil voordelig is, en dit is mos, sal dankbaarheid in alle omstandighede vir ons goed wees.

Leef ons só? Kom ons vra hierdie vraag baie eerlik vir onsself, terwyl ons elkeen ons lewenspad ondersoek.

Dit beteken dat ons waardering deur woord en daad kan bewys. Om aan God en die mense rondom ons in alles iets van dank te verbaliseer of te vertoon.

Die voordele van ’n dankbare lewe is dat ons hart lig en mooi word. Dit verryk jou gebedslewe wanneer jy met God praat oor wat jy van Hom en die lewe waardeer. Dit help ons met nuwe oë na die lewe kyk omdat ons dit en alles wat ons bestaan behels as gawes uit God se hand beskou.

Sodoende sien ons makliker ander se nood raak en ons vind die vreugde van omgee. Ons verhouding met God verbeter en verdiep, want dankbare harte beweeg nader aan God, wat Lig en Lewe is, en verder weg van donker ondankbaarheid, ontevredenheid, kerm, kla en al die dergelike dinge wat ’n mens eerder belas as oplig.

Gebed

Here, dankie vir hierdie waarhede.

Ek besef nou dat U wil vir my om dankbaar te leef, goed is vir my. Jammer dat ek U wil as swaar en kruisagtig sien.

U juk is regtig sag en U las is lig.

Help my om in alles vandag eers dankbare dinge te soek. Ja, selfs die juk en las. Amen.

  • Els is ’n leraar aan die NG kerk Kroonstad-Suid.

You need to be Logged In to leave a comment.