Die DA in die Dihlabeng-stadsraad het Eric Motloung, onlangs verkose DA-speaker, onttrek ná pogings van die ANC om hom te isoleer en van sy posisie te vervreem om die mag in die raad en munisipaliteit te bekom.
So sê Jafta Mokoena, DA-hoofsweep in die raad. Hy sê politieke partye sal nou weer kandidate moet benoem, waarvoor gestem sal moet word.
Volksblad het einde November oor Motloung se verkiesing tot speaker berig.
Volgens Mokoena sou Motloung nie verkies kon word sonder die steun van baie ontevrede ANC-raadslede nie, wat sterk glo die DA is die beste alternatief vir die verdeelde ANC wat nie in staat is om homself reg te ruk nie.
“Die DA het raadslid Motloung vir die amp van speaker beskikbaar gestel, juis om ’n groter toesighoudende rol en verantwoordelikheid by die raad oor spesifiek dienslewering te verseker.”
Mokoena sê nou misbruik die Vrystaatse provinsiale regering deur middel van Skully Nxangisa, LUR vir die departement samewerkende regering en tradisionele sake, sy politieke mag om die aanstelling van ’n DA-speaker onwettig te laat verklaar.
Hy beweer Nxangisa het die DA selfs met die hof gedreig.
“Vir die DA is die waarnemende munisipale bestuurder se versuim om die integriteit van die raadsbesluit teen die onwettige aanval van Skully Nxangisa te verdedig, tesame met soortgelyke politieke struikelblokke wat handel oor belangrike raadsvergaderings, ’n bevestiging van die DA-koukus se siening dat slegs ’n DA-meerderheid ’n doeltreffende raad sal kan verseker.”
Mokoena sê die DA sal nie betrokke raak in die ANC se interne faksiegevegte wat die vermoëns van die Dihlabeng-munisipaliteit ondermyn om basiese dienste aan inwoners te lewer nie.
“Die DA het besluit om Motloung te herroep omdat dit in belang van die inwoners van Dihlabeng is om die ANC toe te laat om voort te gaan met hul onvermydelike politieke selfdood. Ook om die kiesers in die munisipale verkiesing later vanjaar die kans te gee om aan die DA ’n oorweldigende mandaat by die stembus te gee.”
Nxangisa het nie gereageer op verskeie oproepe nie.
Thabo Meeko, woordvoerder van die Vrystaatse ANC, het ook nie op verskeie oproepe vir kommentaar gereageer nie.