Cyril lê kranse vir oud-ANC-leiers

Die beendere in die grafte van mense soos eerwaarde Z.R. Mahabane en James Moroka, voorheen presidente van die ANC, moet vir ons die pad vorentoe aanwys, het pres. Cyril Ramaphosa Woensdag (04/01) in Kroonstad gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer ’n toespraak by die graf van voormalige ANC pres. Z.R. Mahabane in Kroonstad.Foto: Alet van der Walt

Credit: SYSTEM

Die beendere in die grafte van mense soos eerwaarde Z.R. Mahabane en James Moroka, voorheen presidente van die ANC, moet vir ons die pad vorentoe aanwys, het pres. Cyril Ramaphosa Woensdag (04/01) in Kroonstad gesê.

Ramaphosa, Fikile Mbalula, sekretaris-generaal van die party, en nog ANC-leiers het die grafte van ANC-leiers in die Vrystaat besoek.

Mense het ure lank by die begraafplaas in Moakeng, Kroonstad, gewag om Ramaphosa te sien.

Ramaphosa het eers die familie van Mahabane wat nog in Moakeng woon, besoek, voordat hy die kranslegging gedoen het.

Die besoek kom op die vooraand van die ANC se viering van sy 111de bestaansjaar eerskomende Sondag in Bloemfontein.

Die besoeke aan die grafte is deel van die hernuwing van die ANC en sodat die beendere weer lewendig kan word en die pad vorentoe kan aandui, het Ramaphosa gesê.

“Dit is ook vir ons van historiese belang en ’n manier om hulle te vereer wat vroeër deel was van hierdie glorieryke organisasie.”

Ramaphosa het gesê Mahabane was die enigste ANC-leier wat vir twee afsonderlike ampstermyne tot president van die party verkies is.

“Ons is besig met ’n pelgrimstog in die Vrystaat om leiers te vereer en gaan later vandag ook na die graf van James Moroka by Thaba Nchu,” het Ramaphosa gesê.

Hy sê om gestorwenes te vereer is deel van die ANC se kultuur.

Hy het Mahabane se nasate wat by die graf was bedank omdat hulle steeds lojaal aan die party is.

’n Kranslegging is ná Ramaphosa se toespraak by die graf gedoen.

William Bulwane, lid van die ANC se tussentydse provinsiale komitee in die Vrystaat en LUR van polisie, paaie en vervoer, het voor die kranslegging gesê die ANC en die nasionale uitvoerende komitee (NUK) het besluit om sy twee Vrystaatse presidente te vereer omdat die 8 Januarie-vieringe vanjaar in Bloemfontein gehou word.

Bulwane het ook gesê dat ’n plan van aksie, wat deur die NUK opgestel is, Sondag (08/01) vir die komende jaar bekend gemaak sal word. Daar sal met dié plan gefokus word op die algemene verkiesing in 2024.


Alet van der Walt

You need to be Logged In to leave a comment.