Inwoners van Môrewag, Kroonstad, is moedeloos oor die toestand van paaie in hul woonbuurt.
“Ons het al talle klagte ingedien,” sê André Kruger van Kemsleystraat, Morewag.
“Die enigste terugvoering wat ek van ons raadslid ontvang het, is dat slegs die hoofroetes deur die munisipaliteit herstel word.”
Sedert 1964, toe dit nog ’n grondpad was, woon Kruger in dié straat. Hy reken dit sou beter wees as die Moqhaka-munisipaliteit die pad skraap en dit weer ’n grondpad maak.
Volgens Linda Louwrens, raadslid, is Kemsleystraat maar een van talle strate wat in ’n “chaotiese toestand” is.
Sy reken strate soos Bosman-, Enslin-, Vorster-, Alwyn Schlebusch- en Senekalstaat is net van die strate wat dringend herstel moet word.
“Wanneer teer beskikbaar is, word die hoofroetes eerste herstel. Moqhaka se grootste uitdaging is finansies, asook die tekort aan munisipale voertuie weens ’n hofgeding.”
Die kwessie word gereeld by die munisipaliteit aangemeld.
VrystaatKroon het ’n amptelike navraag aan die Moqhaka-munisipaliteit gerig, maar wag nog op terugvoering.


