Lamentoso is ‘n versameling gedigte wat hoop aan mense met kroniese siektes bring. Hier is een van die skrywers, dr. Suzanne van der Merwe, met die bundel. Foto: Madli Grobbelaar

Madli Grobbelaar

‘n Versameling gedigte wat in ‘n aangrypende visuele bundel, Lamentoso, vervat is, neem die leser op reis deur die lewe van iemand wat met kroniese pyn leef en wil daardeur hoop aan mense bring wat aan ‘n kroniese siekte ly, asook bewusmaking skep by die leser.

Suzanne van der Merwe (37), predikant van die NG kerk Kroonstad-Noord, het saam met haar medeskrywer, Matilda Swan (39), ‘n onderwyseres van Heidelberg, die digbundel in die lewe geroep. Die tien gedigte in die bundel weerspieël die ervaringe en gedagtes van Swan, die digter, wat met die kroniese siektetoestand rumatoïede artritis leef.

“Die hoofdoel is om bewusmaking te kweek sodat insig en begrip vir mense wat met kroniese toestande worstel, sal verdiep en verbreed. Natuurlik wil ons ook hoop bring vir diegene wat daagliks met kroniese siektes worstel,” sê Van der Merwe.

Die digbundel bied ‘n venster om na binne en na buite te kyk. ‘n Uitdagende reis na menswees in al die fasette daarvan: liggaamlik, psigies, emosioneel, geestelik en sosiaal, binne die konteks van iemand wat met kroniese siekte leef.

Van der Merwe reken almal het ‘n familielid, vriend of selfs ‘n kollega wat met die een of ander soort kroniese pyn worstel, en hierdie bundel bied juis ‘n geleentheid om die daaglikse stryd beter te verstaan en dit sinvoller te bestuur om steeds ‘n lewe met sin en betekenis te kan leef.

Dr. Theo Kleynhans (62),

navorsingsbestuurder van Kroniese Kronieke, en Van der Merwe doen onafhanklike navorsing oor selfbestuur ten opsigte van kroniese siekte, met die fokus op selfsorg, lewensgehalte en betekenis, waaruit Lamentoso as eerste publikasie uitgegee is. Met Swan as navorsingsdeelgenoot is die idee van die digbundel gebore om werklik met verantwoordbaarheid oor die onderwerp te kan praat en skryf.

Lesers kan hulle verdiep in die reis waar meervoudige sintuiglike interpretasies die boodskap van die digbundel versterk. Gedigte, visuele vertolking, ouditiewe aanbieding deur ‘n skakel na YouTube en oordenkinge, sal stof tot nadenke wees en bied ‘n geheelervaring van tien temas binne die reis met kroniese siekte.

“Mag Lamentoso vir elke leser ‘n baken van empatie en begrip wees. ‘n Herinnering aan die krag wat in die menslike gees lê, te midde van meedoënlose pyn en lyding. In die teenwoordigheid van die Bron van Lig moet die donker swig.”

Lamentoso is Swan se debuut, wat deur Van der Merwe en Kleynhans, stigtereienaars van KleynVDM-uitgewers, as koffietafel-uitgawe en aanlyn beskikbaar gestel is. Stuur e-pos na suzanne@kroniesekroniekeonline.com of skakel 063 478 5988.

You need to be Logged In to leave a comment.