Broodjie in lugbraaier vier uie en roosmaryn as geurige pasmaats

Tuiskokke het nou al uitgevind dat ’n lugbraaier ’n magdom moontlikhede inhou vir vinnige, maklike etes.


Tuiskokke het nou al uitgevind dat ’n lugbraaier ’n magdom moontlikhede inhou vir vinnige, maklike etes.

As jy gedink het ’n brood is bo ’n lugbraaier se vuurmaakplek, dink weer.

Louisa Holst gee in Die Suid-Afrikaanse Lugbraaier Kookboek 2smaaklike resepte vir alles van smulhappies en bykosse vir braaivleis tot hemelse vleisgeregte.

Tuisgebakte brood is een van die resepte wat sy onder die afdeling vir bykosse verskaf.

Die resep vir ’n uie-en-roosmarynbroodjie maak een ronde brood en dit neem net meer as ’n uur, plus rustyd, om te berei. Gaarmaaktyd is sowat 35 tot 40 minute teen 180 °C.

Jy benodig:

1 middelslag-ui, gekap

25 ml olyfolie

340 g witbroodmeel

2 ml sout

10 g kitsgis

240 ml louwarm water

5-10 ml gekapte, vars roosmaryn plus ekstra vir oorsprinkel

soutvlokkies vir oorsprinkel

Maak só:

Plaas die uie in ’n bak en meng die olie by. Voorverhit die lugbraaier tot 180°C. Plaas die uie in die lugbraaiermandjie en braai 5 min lank totdat die uie sag is en begin verbruin. Roer halfpad deur die gaarmaaktyd deur. Verwyder uit die bakkie uit die lugbraaier en laat dit eenkant afkoel.

Sif die meel en sout saam in ’n groot bak. Voeg die gis en die meeste van die louwarm water by. Voeg dan die uiemengsel en roosmaryn by. Roer totdat dit ’n deeg vorm. Voeg die res van die water by as die deeg te ferm voel. Dit moet sag wees, maar maklik knie.

Knie vir 10 minute met jou hande of in ’n voedselverwerker met ’n deeghaak. Plaas die deeg in ’n bak wat liggies met olie besmeer is en bedek met ’n klam kombuisdoek. Laat staan die deeg sowat ’n uur lank op ’n warm plek totdat dit uitgerys of dubbeld die volume is.

Knie die deeg af en vorm dit in ’n platterige, ronde brood. Plaas die deeg op ’n dubbellaag-aluminiumfoelie wat met olie bestryk is. Verf die bokant van die deeg met olyfolie en sprinkel die sout en ekstra roosmaryn, wat grof gekap is, oor. Laat rys vir 30 min.

Voorverhit die lugbraaier tot 180°C. Plaas die brood op die foelie in die lugbraaiermandjie. Bak vir 20 min, draai die brood om en bak nog 10-20 minute, of tot goudbruin en gaar.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.