Inwoners van Engo se Bergprag-sentrum vir bejaardes in Bethlehem is in Lentemaand deur weldoeners op ’n braai en musiek trakteer.
Die bejaardes kon op 19 September heerlik saamkuier terwyl daar wors gebraai is; en Okkie Lotriet, ’n omroeper van die plaaslike radiostasie, die mooiste trekklaviermusiek verskaf het.
“Dit was vir ons ’n baie besonderse dag, en ons inwoners het dit terdeë geniet om almal sommer net lekker saam te kon kuier en bederf te word,” sê Mariaan Briedenhann, bestuurder.
“Ons is so dankbaar teenoor die ondernemings op die dorp wat die worsbroodjies, sappies en koeldranke vir die geleentheid geskenk het, en natuurlik vir die musiek deur Okkie.”
Die idee vir so ’n dag was dié van Edward Smith, wie se oupa, George Coleman, ’n inwoner van Bergprag is. Die doel was om inwoners die geleentheid te gee om ontspanne en geliefd te voel, veral ná die baie sombere tydperk van Covid-19 wat agter die rug is – en sommer ook ter viering van Braaidag Saterdag (24/09).
Martin Dreyer, wat die drinkgoed verskaf het, sê dit is belangrik om na bejaardes om te sien en hulle spesiaal te laat voel.
Die bestuur van die sentrum, personeel en inwoners het hul dank uitgespreek teenoor almal wat die dag moontlik gemaak het.