Braaiers kan nou inskryf om oor die kole gehaal te word

Inskrywings vir die volgende seisoen van kykNET se gewilde Afrikaanse koswerklikheidsreeks, Kokkedoor Vuur & Vlam, kan nou gedoen word.


Inskrywings vir die volgende seisoen van kykNET se gewilde Afrikaanse koswerklikheidsreeks, Kokkedoor Vuur & Vlam, kan nou gedoen word.

Soos in die eerste aflewering in 2023, moet deelnemers vanjaar weer die koskenners Bertus Basson en Kobus Botha met hul braai-vaardighede beïndruk.

Die oorkoepelende Kokkedoor-tafel is die eerste keer in 2013 gedek.

Oor die jare het familielede van die reeks, waaronder Koekedoor, Kokkedoortjie en Koekedoortjie, geurryke vermaak en inspirasie aan oud en jonk verskaf.

Verlede jaar het hierdie koswerlikheidsreeks die eerste keer ’n braaivoorskoot aangetrek.

In hierdie reeks was Karen Els van Malmesbury en Gert Joubert van Jeffreysbaai as die eerste wenspan van Kokkedoor Vuur & Vlam gekroon.

Nou is kykNET weer opsoek na die perfekte span-kombinasie van ’n onthoubraaier en ’n kinkelbraaier wat vurig daaroor voel om kos oor die kole gaar te maak.

Koskenners Bertus Basson (foto) en Kobus Botha moet vanjaar weer deur deelnemers in die koswerklikheidsreeks Kokkedoor Vuur & Vlam beïndruk word.

Wat is die verskil tussen hierdie braaiers?

’n Onthoubraaier het nie formele sjef-opleiding en professionele ondervinding nie, maar hul hart klop warm vir tradisionele kos.

Hulle word gekies vanweë hul vernuf as ’n huiskok en hul kennis van onthoukos.

Daarenteen word Kinkelkbraaiers gekies juis vir hul kwalifikasies of hul ondervinding in ’n erkende restaurant of professionele kombuis.

Skryf só in

Besoek kyknet.tv of stuur ’n e-pos aan navrae@kokkedoor.tv.

  • Elke deelnemer se inskrywingsvideo, wat nie langer as drie minute mag wees nie, moet die volgende inligting bevat:
  • bekendstelling van die deelnemer;
  • vertel wie hy of sy is;
  • waar hy of sy vandaan kom;
  • aanduiding of hulle as ’n onthoubraaier of ’n kinkelbraaier inskryf;
  • wat maak van die deelnemer ’n onthoubraaier of ’n kinkelbraaier; en
  • hoekom wil hulle deelneem?

Reëls

  • Deelnemers moet ten minste 18 jaar oud wees op die dag van die oudisie.
  • Enige Suid-Afrikaanse of Namibiese burger met ’n geldige identiteitsdokument, kan inskryf.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 15 Junie, en oudisies sal ook in dié maand plaasvind.

Die reeks sal van Januarie af op kykNET uitgesaai word.

Spanne wat deurdring om deel te neem, moet van 18 Julie tot 14 Augustus in Struisbaai in die Suid-Kaap beskikbaar wees.

Inskrywings vir vanjaar se Kokkedoor Vuur & Vlam kan nou gedoen word.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.