Suid-Afrika en die wêreld het Saterdagoggend (23/04) met skok verneem van die afsterwe van die oud-Springbok en rugbylegende Pedrie Wannenburg, wat in Amerika in ’n motorongeluk dood is.
Pedrie en sy vrou, Evette, asook hul twee kinders, Isabelle (10) en Francois (8), was onderweg om ’n fliek te gaan kyk toe die ongeluk plaasvind.
Evette en albei kinders het die ongeluk oorleef, maar Francois was in ’n kritieke toestand en is met ’n skedelbreuk in die hospitaal opgeneem. Hy word steeds behandel, en sy toestand is stabiel.
“Dit was ’n geweldige skok om van Pedrie se dood en die ongeluk te verneem,” sê oudjoernalis Hesti Wessels, Evette se skoonsuster van Kroonstad.
“Dit is sewe maande ná pa Freek se dood en alles voel so onwerklik en oorweldigend. Evette is langs Francois se hospitaalbed en huisvriende in Amerika sien om na Isabelle.”
Jan Wessels, Evette se oudste broer, het Sondagaand na Amerika gevlieg om sy suster en haar kinders by te staan. Pedrie se ouers, Carl en Hansa, sal hulle later in die week by hulle aansluit.
Op die sosiale media is geldinsameling vir bydraes tot die mediese uitgawes van die Wannenburg-gesin begin. Belangstellendes wat ’n bydrae wil lewer, kan gofundme.com besoek en meer onder “Help to support the Wannenburg family” gaan lees.
Die ongeluk wat Pedrie se lewe geëis het, het Vrydag in Houston, Texas, plaasgevind en is veroorsaak deur ’n 16-jarige en vriende wat in ’n jaagtog met die owerhede betrokke was.
Pedrie is 11 jaar gelede in Kroonstad met Evette getroud.
Evette is in dié dorp gebore en het aan die Afrikaanse Hoërskool gematrikuleer, waarna sy aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer het. Sy is die jongste kind van die ontslape dr. Freek en Corné Wessels. Sy het op 13 April haar 35ste verjaardag gevier.
Familie, vriende en medespelers beskryf Pedrie as ’n opregte en nederige mens.