By die wenner, oom Izak Gelderblom (voor), is van links Thabo Mokoena (Renault), Anché de Bruin (Novus Media), Frances Jacobie (Renault), Carolien Koen (Evolve Audit and Advisory), Willie Pretorius (Evolve Audit and Advisory) en De Wet Claassens (Engo). FOTO: Lientjie Mentz

Hy het hierdie gevoel gehad, en dit het waar geword. Só vertel oom Izak Gelderblom (81), wat op 31 Oktober ‘n Renault Kwid Climber van R222 000 gewen het.

Die motor was op die spel in Engo se Projek van Hoop, wat ‘n vreugdevolle hoogtepunt bereik het op ‘n geselligheid by Renault in Bloemfontein.

Vyf finaliste is aangewys, en hulle en hul metgeselle; borge Renault Bloemfontein, Novus Media en Evolve Audit and Advisory; asook Engo se personeel, het ‘n oggendgeselligheid vol opwinding bygewoon.

Dankbaarheid groot

Die ander finaliste wat in die trekking was, is:

■ Braam Minnaar, van Wesselsbron;

■ Gideon Mostert, van Bloemfontein;

■ Ntabeleng Tsimile, van Senekal; en

■ Bianca Strauss, van Vanderkloof.

Oom Izak, wat op sy eie in ‘n meenthuis in Raymond Mhlabastraat woon, sê hy is so opgwonde oor dié groot geskenk.

“Ek kan net sê dankie. Vir die

Vader sê: Dankie.”

Hy het net ‘n ou motor, en dit is die eerste keer dat hy ‘n motor sal besit wat kragstuur het.

Sy dogter, Ansie Cramer, wat die geselligheid saam met hom bygewoon het, sê haar pa sal eers weer moet oefen om te bestuur.

“Hy ry net Sondae kerk toe, en dan na my toe. Verder neem ons hom rond as hy iets nodig het.”

Oom Izak het die skenking vir sy wenkaartjie by ds. Jannie Smith van die NG kerk De Bloem gedoen. Smith is ook die voorsitter van Engo se beheerraad.

Oom Izak het skenkings vir twee kaartjies gedoen. Hy sê hy gaan volgende jaar weer deelneem.

Die publiek is vanjaar genooi om ‘n skenking van R50 te doen en in die trekking te wees om die Renault Kwid Climber te wen. Skenkings vir altesaam 6 719 kaartjies is in vanjaar se Projek van Hoop gedoen.

De Wet Claassens, uitvoerende hoofdirekteur van Engo, sê elkeen wat ‘n skenking gedoen het, is ‘n wenner. Die geld wat uit die Projek van Hoop ingesamel word, word aangewend vir Engo se kinder- en jeugsorgsentrums, asook sy gestremdesorg-, bejaardesorg- en gesinsorg-programme.

“By Engo glo ons dat Ewige Hoop nie net in groot dade lê nie, maar in elke gebaar van gee. Die Projek van Hoop is ‘n bewys daarvan; ‘n herinnering dat wanneer ons saamstaan, ons werklik die wêreld om ons kan inkleur met hoop,” sê Claassens.

Engo, ‘n niewinsgewende organisasie gegrond op die Christelike waardes van moed, uitnemendheid, eerlikheid, integriteit, sorg en empatie, skep reeds langer as ‘n eeu Ewige Hoop (“Tshepo Esafeleng”) in die Vrystaat.

Die Projek van Hoop, vanjaar ‘n 12de keer aangebied, is ‘n projek waarby Novus Media Gemeenskapsnuus en sy Vrystaatse koerante − BloemNuus, BloemExpress, Vista en VrystaatKroon − van die begin af betrokke is.

Om betrokke te raak, stuur e-pos na info@engo.co.za of skakel 060 548 5543. Besoek ook engo.co.za.

Die finaliste is van links Braam Minnaar van Wesselsbron, Izak Gelderblom van Bloemfontein, Ntabeleng Tsimile van Senekal, Bianca Strauss van Vanderkloof en Gideon Mostert van Bloemfontein. FOTO: Lientjie Mentz
Oom Izak Gelderbloem het Vrydag ‘n splinternuwe Reneault Kwid Climber gewen. FOTO: Lientjie Mentz
dummy text

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article