Belanghebbendes by die Bokkieweek-skolesporttoernooi is verheug om aan te kondig dat die logo vir die toernooi ná ’n jarelange stryd aan die einde van 2023 as handelsmerk geregistreer is.

Ds. Peter Stans, uitvoerende hoof, sê dit is verblydend dat Bokkieweek nou alleenreg het op die logo.

“Aanvanklik is die toernooi, wat in 1992 begin is, Springbokweek genoem. In alledaagse taalgebruik neig mense tot korter en vinniger, en die naam het in die volksmond na Bokkieweek verander,” sê Stans.

Die organisasie sê die meeste mense vereenselwig nasionale sportspanne met die Springbok-embleem.

Daarom het Afrikaner Volkseie Sport (AVS) die tradisie voortgesit deur steeds van ’n Springbok gebruik te maak, maar slegs die kop – sodat die logo nie met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se embleem verwar word nie.

Die finansiële bestuurder van die AVS, Marike Visser, het die Bokkie­week-logo ontwerp. Sy het hiervoor die woord en die Springbokkop van die AVS-embleem saamgestel.

Korrespondensie oor die Bokkieweek-logo het reeds in 2016 begin. Die proses wat gevolg moes word, het vereis dat ’n advertensie geplaas word dat AVS aansoek doen om die logo te laat registreer.

Ander partye kon beswaar aanteken, en Saru het geredeneer dat die woord “Bokkie” reeds in 2010 as ’n handelsmerk geregistreer is.

Volgens wet geld die oudste gebruik van die woord. Die AVS moes dus bewys dat die woord Bokkieweek reeds vroeër gebruik is.

“Ons het ons argiewe nagegaan en gesien dat daar al in die jaar 2000 van Bokkieweek gepraat is. Dit het só op die programme wat in dié week uitgegee is, en ook op notules van die destydse vergaderings, verskyn,” verduidelik Stans.

“Met hierdie inligting kon ons regsverteenwoordigers die stryd voortsit. Ná baie vertragings het hulle uiteindelik daarin geslaag om die Bokkieweek-logo te laat registreer, aan die einde van 2023.”

’n Klerereeks met die Bokkieweek-logo op is ontwerp, en artikels sal eersdaags te koop wees.

Dit is aangekondig dat die jaarlikse Bokkieweek vanjaar van 24 tot 28 Junie in Kroonstad sal plaasvind.

Bel David Mey, president van die AVS, by 083-778-7337, of Stans by 083-462-7411.

You need to be Logged In to leave a comment.