’n Dinamiese vrou van Hoopstad in die Vrystaat, dra met trots die titel van semi-finalis in die gesogte Mev. Heelal Suid-Afrika-kompetisie. Maar dié boervrou, Charlene Kleynhans is veel meer as net ’n mooi gesig – sy’s ’n toegewyde ma, suksesvolle entrepreneur, filantroop en die vrou van ’n passievolle boer.
“Dis ’n ongelooflike eer om as semi-finalis gekies te wees,” sê Charlene. “Hierdie platform gee my die geleentheid om nie net my dorp en provinsie te verteenwoordig nie, maar ook ’n boodskap van hoop en inspirasie aan ander vroue te bring – veral dié in landelike gebiede.”
Charlene is die trotse ma van drie dogtertjies – Carli (11), Leandi (9) en Anlia (3) – en woon saam met haar gesin in die hegte gemeenskap van Hoopstad.
“My man, Johan, almal ken hom as Boeta Kleynhans, boer hier saam met sy pa en broer. Hulle fokus veral op graanverbouïng, dis harde werk, maar die tipe werk wat jou diep leer waardeer, wat werklik saak maak.”
Saam met haar kleinsus, Sonja Bester, het sy in 2024 die onderneming Sisters and Journals gestig, met die doel om die alledaagse lewe van vroue en mammas makliker en meer georganiseerd te maak. “Ons droom was om iets betekenisvol te skep – en elke dag bou ons daaraan,” sê sy.
Sy is ook aktief betrokke by Spreading the Love Charity, ’n organisasie wat gemeenskappe in nood ondersteun, en sy is met oorgawe hier betrokke. “Kinders lê my baie na aan die hart,” vertel sy. “Dis hoekom ek ook betrokke is by die tak van Spreading the Love in Pretoria, wat kinders uit gewelddadige omstandighede help en weer liefde en veiligheid in hul lewens bring.”
Hoewel sy self nie die tipiese “bak-en-brou” boervrou is nie, koester Charlene die plaaslewe. Haar kreatiewe passie lê by grimering en stilering – en sy deel graag video’s van uitrustings, grimering én gesinsoomblikke op TikTok. “Ek glo daaraan om eg en werklik te wees – dis wat ander vroue inspireer,” sê sy.
Carli en Leandi, inspireer haar daagliks met hul liefde vir dans. In 2024 het die twee selfs Suid-Afrika op die IFAA-danskompetisie in Namibië verteenwoordig, waar hulle hul talent in Tap en Hip Hop ten toon gestel het.
Wat haar dryf? Haar geloof. “Elke besluit in my lewe – van ons besigheid tot my deelname aan hierdie kompetisie – is gegrond in gebed en vertroue. Sonder God se leiding sou niks hiervan moontlik wees nie. Elke onderneming, elke rol wat ek vervul, is gebore uit gebed, vertroue en genade,” sê sy met oortuiging.
Charlene se deelname aan Mev. Heelal Suid-Afrika het begin met ‘n vriendin in Kanada, wat haar aangemoedig het om in te skryf. “Ek het lank daaroor gebid – toe die sprong gewaag. Hierdie reis verryk my daagliks – as vrou, as mamma en as mens.
Die top 10 finaliste sal op 16 Augustus tydens ‘n glansgeleentheid in Johannesburg aangekondig word. Die wenner word gekroon in Maart 2026, waarna die wenner Suid-Afrika op die internasionale verhoog sal verteenwoordig.
“Ek is die enigste deelnemer uit die Vrystaat, wat as semi-finalis aangewys is, en ek is nou tweede in die openbare stempeilings, iets waarop ek besonders trots is”, sê Charlene.