Op Donderdag 12 Oktober het VKB ’n inligtingsdag vir nuwe-era boere by die VKB-opleidingsentrum in Reitz aangebied.
Sowat 50 boere het die dag bygewoon om inligting van ’n reeks kenners te ontvang onder die tema “Beplanning vir die komende seisoen”.
Die boere was verteenwoordigend van die hele VKB-bedieningsgebied in die Oos-Vrystaat en KwaZulu-Natal, met ’n jongboer- en vrouekomponent wat sterk teenwoordig was.
Die boere is betrokke by VKB se ontwikkelinsprogram vir nuwe-era boere en ook die Partners in Agri-Land Solutions- (Pals) projek.
Die deelname, asook interaksie tussen die boere en die sprekers op die inligtingsdag, was goed.
VKB-kenners op die verskillende gebiede wat bespreek is, is ingespan om eerstehandse kennis met die nuwe-era boere te deel.
Nadia van Tonder, een van VKB se graanhandelaars, het inligting verskaf oor prysberekening en die graanmark vir die komende seisoen. Albert Kriek, landboukundige van VKB, het gepraat oor die verwagte seisoentoestande en hoe grondfaktore die gewas-opbrengste kan beïnvloed.
Een van VBK se landbou-ekonome, Kamohelo Mofokeng, het aan die produsente verduidelik dat dit noodsaaklik is vir hulle om ’n oog op hul geldsake te hou, veral in tye van onsekerheid.
Een van die plaaslike produsente, Nkosana Mbele, het oor die geleenthede en uitdagings van presisieboerdery gesels en daarna op grond van sy ondervinding vrae daaroor beantwoord.
Daarna het die produsente die geleentheid gekry om die besturende direkteur van VKB Landbou, Bertie Smith, te ontmoet.
Orapeleng Mocomi van Maluti Farming Pals het wenke gegee oor die konsep van vennote in landbougrond-oplossings, oftewel Pals.
Reggie Kabule, ’n produsent, het beginsels van ’n boerdery vir die nuwe-era-produsente verskaf, terwyl Dawie Schoeman van Vrystaat Agri in sy praatjie klem gelê het op hoe boere vir die toekoms moet boer.
Cobus Meintjes van United Seeds het ook ’n praatjie as deel van die program gelewer om inligting oor hierdie saadverskaffer te deel.