Die Steynsrus-distriksboere-unie se eerste vergadering is op 6 Februarie gehou.
Die tema was “Rek jou rande”, en kundige sprekers het lede van die unie toegespreek nadat al die sake op die agenda bespreek is.
Praatjies is gelewer deur Danie Retief, ’n landbouadviseur van Standard Bank, Bloemfontein; Izak Human, ouditeur en belastingdeskundige; asook Hennie Theron en Finjas Molotsi van VKB-landbou.
“Dit was ’n insiggewende vergadering, en ons glo lede het gebaat by die inligting wat die sprekers gedeel het,” sê Steyn Groenewald, voorsitter van die unie.
“Ons doelwit is dat almal in elke vergadering iets leer om huis toe te vat.
“Ná vergaderings word daar lekker gebraai en gesellig verkeer. Dit is ook vir ons belangrik, want dit is vir baie mense die enigste tyd wat daar is om mekaar te sien, en dit skep ook samehorigheid onder die lede.”
Op die vergaderings van die Steynsrus-distriksboere-unie word aktuele sake in die distrik bespreek. Veiligheid, diefstal, paaie, veldbrande, markoorsigte, en verskillende portefeuljes van interne skakelpersone met Vrystaat Landbou (VL) en van ander organisasies kom onder meer as onderwerpe aan die beurt.
’n Program met ’n wye spektrum van temas wag vanjaar op lede. Die volgende vergadering is op Dinsdag 5 Maart. Die tema is “Sien is glo”, en ná die vergadering word ’n groentoer in die omgewing onderneem, waartydens verskillende gewasse, kultivars en bewerkingsmetodes vergelyk gaan word.
In September word die Boeretoer beplan, waartydens interessante boerderye en landbou-industrië besoek gaan word.