‘n Groot groep boere het Dinsdag (06/09) in Senekal saamgetrek toe twee verdagtes in die landdroshof in die dorp verskyn het. Dit volg nadat Brendin Horner (21), ‘n jong plaasvoorman van Paul Roux, op Donderdag, 1 Oktober, vermoor is. Die verdagtes, Sekwetje Isaiah Mahlamba (32) en Sekola Piet Matlaletsa (44) is Saterdag (03/10) in Fateng Tse Ntsho by Paul Roux in hegtenis geneem. Hulle bly in aanhouding totdat hulle weer op 16 Oktober in die landdroshof in Senekal verskyn.
Duisende boere het Dinsdag na die dorp opgeruk in solidariteit met Brendin se naasbestaandes en boere wat onder aanvalle en misdaad deurloop. Boere van oral oor in die Oos-Vrystaat en selfs so ver as die Wes-Kaap het saamgekom in protes teen die moord op Brendin. Die emosiebelaaide dag is gekenmerk deur woede, ontnugtering en ‘n sterk uitgesproke wantroue in die Suid-Afrikaanse regering se vermoë om geweld teen boere hok te slaan. Nadat die boere deur onder meer leiers van Afriforum en die DA toegespreek is, het ‘n groep boere hul weg tot die landdroshof oopgedwing, waar hulle met die polisie slaags geraak het. Na wat verneem word, het die groep die gebou bestorm omdat hulle geglo het die verdagtes is nog binne.‘n Polisievoertuig is in die proses omgekeer en aan die brand gesteek.
Waarskuwingskote is afgevuur en die polisie se onluste-eenheid is ingeroep.
Ernst Roets, Afriforum se hoof van beleid en aksie het vroeër die dag aan boere gesê: “Die oplossing vir die probleem van plaasmoorde is tweeledig. Die boodskap oor plaasmoorde moet na die uithoeke van die wêreld en die raadsale van die Verenigde Nasies geneem word om te verseker dat die internasionale gemeenskap daarvan kennis neem.” “Die tweede deel van die oplossing – wat selfs belangriker is – is dat mense moet besef dat die regering nié die krisis gaan oplos nie. Gemeenskappe moet eerder sélf die oplossing word deur by gemeenskapveiligheidstrukture aan te sluit om beter na hul eie veiligheid om te sien,” het hy verder gesê.Roy Jankielsohn, DA leier in die Vrystaatse wetgewer, het gesê die DA teken saam met boere protes aan teen die aanvalle op landbouers in die provinsie en die res van die land. Jankielsohn het verder gesê dat boere in ‘n lae-intensiteit-oorlog gewikkel is. Hy het ook sy dank uitgespreek aan elkeen wat aktief betrokke is om die landbougemeenskap te beveilig.