Die krisis in Oekraïne het vir die wêreld gewys hoe kwesbaar ons internasionale voedselstelsels is en hoe kospryse die hoogte in kan skiet as insette skaars raak.
Is dit moontlik om die natuur in te span om goedkoper en winsgewender te boer, en kan dit ’n bietjie van die stres van kapitaalintensiewe boerdery verlig?
Benewens die invloed op ’n boer se beursie, is die wêreldbevolking aan die groei en krap boere kop oor hoe om ons huidige landbou-opbrengste te verdubbel om in die behoeftes te voorsien.
Volgens Chris Burgess, hoofredakteur van Landbouweekblad, gaan hierdie en ander kwessies onder die vergrootglas geplaas word tydens dié publikasie se jaarlikse herlewingslandboukonferensies in Ottosdal, Reitz en Somerset-Wes.
“Ons wil boere help om saam met die natuur te werk, want met gesonde grond kan ons tot ver in die toekoms boer.
“Deur natuurlike prosesse beter in te span, kan boere nie net insetkoste in bedwang bring nie, maar ook hul boerdery meer veerkragtig maak teen die landbou se wisselvalligheid,” sê hy.
Tydens die konferensies kan boere kers opsteek by internasionale sprekers, by ander boere leer wat elke dag herlewingslandboupraktyke suksesvol toepas, en meer uitvind oor die jongste navorsing oor dié opwindende veld.
Vanjaar gaan boere – op die Reitz- en Ottosdalkonferensie – in die geselskap kan wees van die internasionale boer Rick Clark, ’n vyfdegeslagboer in die Warren-distrik in Indiana, Amerika.
Clark boer met mielies, sojabone, koring en lusern op 2 833 ha, en lewer voerbestanddele aan die suiwelreus Danone Noord-Amerika.
Clark is veral bekend in Amerika om sy sukses met die besnoeiing van insetkoste; ’n gevoelige onderwerp in Suid-Afrika ná die astronomiese styging in plaasinsette in 2022.
Kundiges soos Frits van Oudtshoorn, ’n graskenner, GP Schoeman van Agrisol, en die boere Danie Slabbert, Pikkie Uys en Johann Zietsman gaan ook die konferensies toespreek.
’n Kaartjie vir een van die drie Herlewingslandboukonferensies sluit ook gratis toegang van 12 maande tot Landbou.com ter waarde van R1 800 in.
Landbouweekblad se drie konferensies – Reitz, Ottosdal en Somerset-Wes – word aangebied in samewerking met die Riemland Studiegroep, die Ottosdal-geenbewerkingsklub, Soil Health Support Centre, ASSET Research en die Mielietrust.
Kaartjies is op quicket.co.za beskikbaar.