Die VKB-landbougroep spog met een van Suid-Afrika se grootste graandroogoond-aanlegte, wat amptelik in Frankfort geopen is.
In Junie het groot opwinding geheers toe die splinternuwe droogoond, asook ’n nuwe graderingskantoor, in die dorp geopen het.
Die bou van die aanleg het in September 2022 ’n aanvang geneem.
Vandré Fourie-ingenieursdienste en span het met fyn beplanning dié projek van wêreldgehalte ontwikkel en voltooi.
Die droogoond kan 2 000 t. mielies per 24 uur droog met die huidige vogpersentasie wat tussen 14% en 16% wissel. Nagenoeg 96 t. graan kan per uur gedroog word.
Indien mielies met 20% vog gelewer word, sal die vermoë na 60 t./h verminder, wat steeds baie hoog is.
Die droogoond is met ’n aparte aflaaipunt toegerus wat 70 t. vermoë teen 130 t./h kan trek. Die oond beskik ook oor ’n bykomende opgaarbuis wat help om opbergingruimte te skep.
“Ons is baie opgewonde om aan ons kliënte goeie dienste te lewer, veral wat nat graan betref. Produsente wat vroeër stroop om vroeër in die mark te kom en sodoende ’n beter prys in die mark te verkry, gaan beslis hierby baat,” sê Jaen Volschenk, silobestuurder.
Hy sê ook om vroeër te stroop sny die gevaar van wegholveldbrande uit, en die produsent het sodoende ’n langer bewerkingstyd om die lande vir die volgende seisoen voor te berei.
’n Nuwe graderingskantoor en skaal is op die perseel aangebring, wat die innamevloei verbeter om die bottelnek tydens ontvangste te voorkom.
Hierdie projek is in pas met VKB se strategie om te verseker dat kliënte te alle tye bevoordeel word in die uitlewing van hul passie as voedselvoorsieners.