Boer nie vervolg

Die boer wat verlede jaar van moord aangekla is nadat hy drie vermeende plaasaanvallers uit noodweer geskiet het, gaan nie verder vervolg word nie.


Die boer wat verlede jaar van moord aangekla is nadat hy drie vermeende plaasaanvallers uit noodweer geskiet het, gaan nie verder vervolg word nie.

Die 38-jarige Pieter Swart van die plaas Boskoppie buite Kroonstad het op Woensdag 30 Maart gehoor dat daar nie genoegsame bewyse teen hom is om hom verder te vervolg nie. Luidens hofdokumente dui alle bewyse daarop dat Swart uit noodweer opgetree het.

Volgens sy prokureur, FC Schilling van Kroonstad, is Swart verheug oor die uitspraak en opgewonde dat hy dié hoofstuk in sy lewe kan afsluit.

“Dit gaan goed met Pieter,” sê Schilling.

“Hy is dankbaar om sy lewe so normaal moontlik te hervat.”

As deel van die ballistiese ondersoek is daar op Swart se wapens beslag gelê, maar dit sal aan hom terugbesorg word.

Swart is op 12 Februarie verlede jaar op sy plaas oorval. Hy het messteekwonde aan sy nek en wang opgedoen, maar kon daarin slaag om homself te verdedig. Hy het drie van die plaasanvallers doodgeskiet en dadelik hulp ontbied.

Ná die voorval is twee mans en ’n vrou deur plaaslike boere, die buurtwag en die polisie in hegtenis geneem.

Swart is onder polisiebewaking na ’n hospitaal gebring vir behandeling. Ná sy ontslag was hy drie dae lank in aanhouding. Hy is egter vrygelaat sonder ’n hofverskyning omdat daar nie ’n prima facie-saak teen hom was nie.

  • Swart se ouma Thea Swart is in 1975 op ’n buurplaas doodgeskiet.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.