“Ons moet ’n positiewe ingesteldheid hê wanneer ons uitdagings in die lewe benader. Ons Suid-Afrikaners staan nie terug vir uitdagings nie, ons kom met oplossings.”
Só het dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers aan boere gesê op die herlewingslandboukonferensiewat Landbouweekblad op 13 en 14 Maart in Reitz aangebied het.
Benewens Sooliman, met sy bemoedigende praatjie, het landboukundiges en kenners op die vyfde konferensie van sy soort in dié Oos-Vrystaatse dorp die voordele en suksesverhale van herlewingsboerdery met die sowat 350 kongresgangers gedeel.
Herlewingslandbou is ’n holistiese manier van boer wat ekonomies voordeliger is en goeie en gesonde opbrengste verseker. Hoë insetkoste en vele uitdagings belemmer ’n gesonde, volhoubare boerdery in Suid-Afrika. Dit is waarom boere herlewingslandbou as alternatief inspan of ondersoek.
Rick Clark, ’n Amerikaanse boer en gasspreker op die konferensie, het vertel hoe herlewingsboerdery sy insetkoste oor die jare drasties verminder het; ook hoe dit met eie uitdagings gepaard gegaan het.
Cobus van Coller, boer van Viljoenskroon en bekende in landboukringe, beoefen sedert 2006 bewaringslandbou en sedert 2016 herlewingslandbou.
Hy sê dat dit aanvanklik ’n uitdaging kan wees, maar die sukses spreek vanself. Sy raad aan boere wat oorweeg om herlewingslandbou in te span, is om te konsentreer op dit wat hulle in die boerdery wil bereik.
“Dink twee keer voordat jy spuit,” was die woorde van prof. Johnnie van den Berg van die Noordwes-Universiteit (NWU), wat aan kongresgangers die noodsaaklikheid van biodiversiteit verduidelik het.
“Insekte op gewasse rig soms minder skade aan as die gifstowwe waarmee dit bespuit word.”
Konferensiegangers is die geleentheid gebied om die plaas te besoek van Danie Slabbert, boer van Reitz en voorsitter van die Riemland-studiegroep, wat herlewingslandbou beoefen. Hier kon hulle verskillende herlewingsboerdery-praktyke, asook die suksesse van die Riemland-studiegroep, eerstehands beleef.
Die voordeel van ultrahoëdrukbeweiding met ’n koeitrop teenoor ’n gemengde vers-en-ostrop is deur kenner Pikkie Uys verduidelik.
Graskenner Frits van Oudtshoorn het besoekers op ’n velduitstappie geneem en die rol wat verskillende grassoorte in herlewingslandbou speel, gedeel.
’n Sojaland op die plaas wat vyf jaar lank geen kunsmis ontvang het nie, asook geen onkruid- of plaagdoder, en wat vier jaar lank met winter- en somer-dekgewasse beplant en druk bewei is, is een van die suksesse van die Riemland-studiegroep.
Grondgesondheid en die belangrikheid van goed gevoede grond vir herlewingslandbou is ook bespreek, en besoekers kon die grondlewe op die plaas deur mikroskope bestudeer.