Morgan Barrett, ’n boer van Ficksburg wat ’n leidende rol speel om veediefstal hier te bekamp, is op borgtog van R2 000 vrygelaat nadat hy vroeër in verband met die moord op ’n vermeende veedief van Lesotho in hegtenis geneem is.
Barrett het op Woensdag 7 Augustus saam met drie veiligheidswagte in die hof verskyn in verband met die moord op ’n Lesotho-burger op 7 Junie vanjaar op die Sandstone Estate aan die grens met dié buurland.
Sy aansoek om borgtog is Donderdag aangehoor en hy is op R2 000 borgtog vrygelaat.
“Hy het die borgtog betaal en is vrygelaat. Hy is die langnaweek by die huis,” het Jonker Botha, sy regsverteenwoordiger, gesê.
Botha het Woensdag gesê Barrett is deur ’n vennoot van hom gevra om die betrokke dag na ’n toneel te gaan waar vermeende veediewe op die landgoed betrap is en glo aangerand is.
Met sy aankoms het hy dadelik gesien daar is probleme nadat die wagte en die Lesotho-burgers mekaar aangerand het en hy het die Lesotho-polisie gekontak. Hy het ook foto’s van die gebeure aan die polisie voorsien. Die veiligheidswagte werk nie vir hom nie en dit is ook nie sy grond waarop die vermeende aanranding plaasgevind het nie.
AO Mmako Mophiring, woordvoerder van die polisie in die Oos-Vrystaat, het gesê Kananelo Mokuoane (41) van Lesotho se lyk is met ’n diep snywond aan die kop langs die Caledonrivier gekry. Die veiligheidswagte, wat ook onwettige burgers uit Lesotho is, is op die toneel in verband met die moord in hegtenis geneem.
Kananelo Tekisi, Madibeng Thamae en Sello Thamae, almal van Lesotho, het weer Woensdag saam met Barrett in die hof verskyn.
Botha sê die saak is tot vroeg in Oktober uitgestel waarna die kantoor van die direkteur van openbare vervolgings in die Vrystaat (DOV) terugvoering sal gee of daar met Barrett se vervolging voortgegaan sal word.
Die foto’s wat Barrett aan die polisie voorsien het, is aan die aanklaer beskikbaar gestel. Die aanklaer het ook gehoor dat die polisie Barrett nooit ’n verklaring laat aflê het nie.
- Rudi Gericke en sy vennoot, Kleinjan le Grange, veekopers, sou Maandag weer in die hof hier verskyn in verband met die aanval op Barrett in Augustus 2022 in die gholfklub op Ficksburg.
Gericke is in April vanjaar tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Evan Sorour (28), ’n jong boer van die distrik, in Januarie 2023. Hy is ook gevonnis vir die aanval op Even se pa, Reuter. Die twee aanvalle hou verband met die jare lange vete op die dorp tussen die boere en Gericke en Le Grange, met aantygings van veediefstal wat gemaak is.