Boer (en kat én boom) maak ’n plan

Dit is warm – die bloedige hitte tap elk greintjie energie wat daar dalk is.


Dit is warm – die bloedige hitte tap elk greintjie energie wat daar dalk is.

Wanneer die kraaie gaap, is ’n goeie nagrus boonop nie juis ’n gegewe nie. Tussendeur beurtkrag en muskiete is dit soms ’n onbegonne taak.

Verlede week kom ek teen die agtermiddag tuis ná ’n snikhete, bedrywige dag. Nodeloos om te sê is ek poegaai en uitgeput, en ek wil so spoedig moontlik in die swembad gaan spring.

Met die intrapslag trap ek amper op die kat, wat op die naat van haar rug onderstebo op die teëlvloer vir my lê en loer.

Sy beweeg nie ’n millimeter nie, en ek kan sien sy geniet die koeler teëls vir ’n bietjie lafenis. Dit lyk lekker. Ek spring in my baaibroek en gaan soek my lafenis in die aanloklike blou water van die swembad.

Gewoonlik is dit nie sommerso inspring nie, die water is immers ysig so teen ’n warm gebakte vel. Tog waag ek dit, en tot my verbasing kan ek voel dat die swembadwater ook sy deel van die hittegolf ontvang het. Die water is warm.

Ek hang aan die swembadrand en beloer die bonsaibome neffens my. Ek merk op dat die apiesdoringboompie se blare toegevou is.

Paniekerig wonder ek of die bonsai besig is om die stryd teen die hitte te verloor en of ek nalatig was om daarna om te sien.

Ek spring vinniger uit die swembad as wat ek ingespring het. Gryp die handdoek en soek na my foon. Google redes waarom die boompie nou skielik wil vrek.

Omdat ek geen antwoord opspoor nie, besluit ek om ’n foto te neem en aan ’n bonsaikenner te stuur.

Die kat merk op ek kom paniekerig voor en kom stel ondersoek in. So asof sy weet die boom was ’n geskenk en ek het belowe om dit lewendig te hou.

In spanning wag ek op die terugvoering – net om te verneem die apiesdoringboompie kry warm.

Ja, die boom kry warm soos ek en die kat. Ter wille van oorlewing en om in hitte vog te behou, vou dié boompies hul blare toe.

Dit is met groot verligting dat ek in die swembad terugklim en net weer die wonders van die natuur besef.

So het ons almal ons eie oorlewingstegnieke. Die kat lê op die teëls en die boompie vou sy blare toe en ek hang rustig in die water rond. Elkeen te dankbaar vir ’n plan.

You need to be Logged In to leave a comment.