Saterdag 21 Oktober sal vir Suid-Afrikaners, veral die sportliefhebbers, as ’n hoogtepunt op 2023 se sportkalender uitstaan.
Nie net het Suid-Afrika Saterdag met die Engelse krieketspan afgereken nie, die naelbyt-affêre van ’n halfeindstryd tussen die Springbokke en die Engelse Rose, wat vir ’n naelskraap-oorwinning gesorg het, laat ons met twee seges in een dag.
Terwyl die Engelse hul wonde moes lek weens die nederlae, het die vreugdesvure van Suid-Afrikaners oor die wêreld heen hoog gebrand. Gee wel die Engelse erkenning vir ’n uitstekende rugbywedstryd. Ons weet dat die Bokke se oorwinning met ’n skamele enkelpunt vir die Europieërs ’n bitter pil was om te sluk. Die Bokke het ons behoorlik op die punt van ons stoel gehou.
Soos ook in die wedstryd teen die Franse die vorige week.
Wat wag op hulle in die eindstryd?
Kom ons hoop die Bokke het genoeg stamina vir ’n stewige eindstryd dié naweek ná twee weke se uitmergelende kragmetings.
As die Bokke die All Blacks dié naweek klop, sal dit die eerste keer sedert 1995 wees dat die Bokke dié span in ’n wêreldbekereindstryd verslaan.
Kry maar die kalmeerpilletjies byderhand, want as jy gereken het die afgelope twee naweke se rugby was senutergend, maak gereed vir een vir die uitdagendste rugbywedstryde in die wêreldbeker van 2023.
“Go, Bokke!”
Ons staan bankvas agter julle.