As die lewe hom skop, dan skop hy terug.
Só gesels Hendrik Fouché (19), ’n jong man wat deesdae sy eie potjie krap nadat hy sedert laerskool in een van Engo se jeugsorgsentrums gewoon het.
Hy het verlede jaar matriek voltooi en wou begin studeer, maar intussen het hy werk gekry as tekenaar by ’n argiteksfirma.
In die afgelope agt maande sedert hy daar begin het, het hy hard gewerk om ’n program waarmee die firma argitek- en ingenieurs-tekeninge doen onder die knie te kry.
Daar is by hom ’n opgewondenheid oor die lewe en die toekoms.
Motorfietse is een van sy groot belangstellings en hy vertel dat hy in die hoërskool al lekker op veldfietse op ’n vriend se plaas rondgerits het.
Gelukkig is hy ’n praktiese man: “Ek wil baie graag ’n motorfiets koop, maar eers sien ek daarna uit om my bestuurslisensie te kry en vir my ’n motor te koop. Enigiets met vier wiele waarmee ek kan rondry.”
Vir nou stap hy tussen die werk en die woonstel wat vir jong werkende mense en studente uit Engo se jeugsorgsentrums ingerig is.
As jong kind het Hendrik en sy broer op baie plekke gewoon, en Hendrik sê dit was vir hom lekker om vastigheid in Bloemfontein te vind.
“Ek het gevoel soos ’n ouboet in die huis en ek het goeie vriende gemaak,” vertel hy oor sy tyd in die Esperanza-jeugsorgsentrum.
Hy het sy pa die laaste keer gesien toe hy in gr. 6 was – en hoewel hulle nog kontak het, het hulle nie ’n hegte band nie. Hy het sy ma verlede jaar Desember nadat hy matriek voltooi het, die eerste keer weer gesien sedert hy in gr. 3 was.
“Ons gesels gereeld,” vertel hy.
“Sodra ek my eie kar het, gaan ek weer vir haar in Johannesburg kuier.”
Hendrik glo een van die redes dat hy reeds so ver gekom het, is harde werk. Hy het die vak ingenieursgrafika en ontwerp (IGO) by ’n ander skool as ’n ekstra vak geneem.
“Ek het eers einde gr. 9 van dié vak uitgevind en ek wou dit baie graag neem.”
Danksy ’n borg in Australië kon hy dié vak tot in matriek neem en het gemiddeld 97% vir IGO behaal.
“Ek hou baie daarvan en dink ek is met ’n 3D-brein gebore,” sê hy oor sy beroepskeuse.
“Dit is vir my maklik om sketse te maak en te verstaan hoe dit werk.”
Hendrik sê hy het al soveel wonderlike mense met invloed ontmoet en is dankbaar vir almal se rol in sy lewe.
Sy motto in die lewe is: Geduld is die sleutel tot sukses.