Blink toekoms wag

Albei onderhoofmeisies van die Hoërskool Trio in Kroonstad en Hoërskool Voortrekker in Bethlehem het in die top-14 van die jaarlikse Matrikulant van die Jaar-kompetisie geëindig.


Albei onderhoofmeisies van die Hoërskool Trio in Kroonstad en Hoërskool Voortrekker in Bethlehem het in die top-14 van die jaarlikse Matrikulant van die Jaar-kompetisie geëindig.

Die kompetisie is vanjaar vir die 43ste keer deur die Universiteit van die Vrystaat (UV), Volksblad en nou ook Netwerk24 aangebied.

Annika Serfontein van Trio is vanjaar as een van die top-14-finaliste gekies. Buiten dat sy akademies goed presteer, is sy ’n uitstekende redenaar en aktiewe lid van die Voortrekkers. Sy is ’n kranige skut met nasionale kleure wat sy van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) verwerf het, ’n perderuiter, swemmer en doen ook ballet.

Susan Bender van die Hoërskool Voortrekker spog nie net met goeie akademiese prestasies nie, sy is ook ’n knap redenaar wat derde in die nasionale ATKV-redenaarskompetisie geëindig het.

Susan is ’n goeie hamergooi- en gewigstootatleet en speel vir die Oos-Vrystaatse o.18A-hokkiespan.

In vanjaar se kompetisie is daar sowat 60 inskrywings van oor die land heen ontvang met inskrywings van uitstekende gehalte.

Die gemiddelde persentasie van al die inskrywings vir die jaar was 81% en die top-14 het ’n gemiddeld van 85%.

Die topgroep is veelsydige leerlinge wat nie net akademies, maar ook op sport-, kultuur- en leiersvlak presteer het.

Die 14 finaliste word met beurse, geldpryse en ander geskenke met komplimente van die borge (die Kovsie-Alumnitrust, Absa, Forvis Mazars en Pick n Pay Preller Walk) beloon sodra hulle volgende jaar aan die UV registreer.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.