Blink kant bly bo

Die 26-jarige Lukas Lessing, van Marquard in die Oos-Vrystaat, is as Vrystaat Landbou (VL) se 2023 Jongboer van die jaar aangewys. Dié optimistiese jong boer glo daarin om die positiewe in elke situasie te soek.


Die 26-jarige Lukas Lessing, van Marquard in die Oos-Vrystaat, is as Vrystaat Landbou (VL) se 2023 Jongboer van die jaar aangewys. Dié optimistiese jong boer glo daarin om die positiewe in elke situasie te soek.

Lessing, wat op 18 April op ’n spoggeleentheid in Bloemfontein as die 27ste wenner van die kompetisie aangekondig is, boer reeds ’n dekade en is die algemene bestuurder van die familieboerdery in die Marquard–distrik.

Dit is hoofsaaklik ’n gemengde boerdery, waar hulle met mielies, soja, sonneblom en vee boer.

Danksy sy pa se invloed was hy van jongs af by die boerdery betrokke, en hy reken dit is juis daardie toewyding wat nou positiewe gevolge het.

Lessing sê sy vrou, Marné (26), het drie jaar gelede by die veeboerdery betrokke geraak. Sy geniet dit baie meer as wat hy verwag het, en sy kwyt haar goed van haar taak. Die paartjie is ook by die plaaslike kerk en aftree-oord betrokke.

Hy sê sy grootste uitdaging in die boerdery, soos vir alle boere in die Oos-Vrystaat, is die haglike omstandighede van paaie.

Tog huiwer Lessing, ’n pa van twee jong kinders, nie om in te spring waar nodig nie, en hy het al telkemale plaaspaaie geskraap sodat boerdery­bedrywighede kan voortgaan.

“Ons land het te min jong boere en boere wat positief oor die landboubedryf is. Ons kort boere wat by georganiseerde landbou op regeringsvlak of hoër vlakke betrokke wil raak.

“Boere het deesdae met verskeie uitdagings te kampe, wat deur vernuwende denke aangepak moet word.”

Die emosionele en geldelike welstand van plaaswerkers is vir Lessing belangrik, en daarom word die werkers aangemoedig om insette tot die boerdery te lewer wat hulle ook bevoordeel.

Prof. Pieter Fourie, sameroeper van die beoordelaarspaneel en hoof van die departement van landbou aan die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), meen dat die drie finaliste in vanjaar se kompetisie die beoordelaars laat kopkrap het.

“Dit is werklik drie voortreflike jong boere. Benewens die feit dat hul afsonderlike boerderye professioneel hanteer word, is hulle elkeen ’n aanwins vir hul onderskeie gemeenskappe.”

Die ander twee kandidate was Hennie Geldenhuys van Excelsior en Hansie Müller van Viljoenskroon.

You need to be Logged In to leave a comment.