Die Paarsle kantoor van Binnelandse Sake in Kasteelstraat. Foto: Jana Scheepers

Die Paarlse kantoor van Binnelandse Sake is weer oop ná ’n gewelddadige voorval wat die afgelope Woensdag (23 Julie) plaasgevind het. Die departement het aan Paarl Post bevestig dat die kantoor reeds die volgende dag (op 24 Julie) heropen het vir die afhaal van Slim-ID-kaarte en paspoorte, en het vanaf vandag kliente gehelp met afsprake en die dringende afhalings van amptelike dokumente.

Die koerant het na afloop van die voorval by die departement navraag gedoen, waarna die woordvoerder en adjunk-direkteur-generaal van operasies, Thulani Mavuso, die insident bevestig het.

Volgens Mavuso het die voorval omstreeks 12:00 plaasgevind toe ’n kliënt (vermoedelik ‘n man) glo woedend geraak het oor die koste van ID-foto’s. Hy het op personeel begin skree, ’n personeellid aangeval, en daarna in ’n fisieke konfrontasie met ’n ander kliënt betrokke geraak.

Rencia Valentine, wat aan die Inspektoraat vir Immigrasie in die Kaapse Wynland- en Weskusdistrikte verbonde is, is tydens die insident gebyt. Sy het toestemming gegee dat haar naam gepubliseer mag word en met Paarl Post oor die gebeure gepraat.

LEES OOK: Binnelandse Sake in Paarl sluit ná werknemer glo gebyt is

Volgens Valentine, het die man eers ‘n personeellid “lelik aangspreek” waarna hy toe sy aandag op ‘n kliënt gedraai het en haar in die Binnelandse Sake-kantoor “te lyf gegaan [het]”.

Die kliënt het toe na buite gehardloop waarna hy haar agtervolg het “en verder geslaan [het],” vertel Valentine.

Die man het toe later sy aandag na Valentine geskuif binne die kantoor waar hy haar glo met beledigende taal toegesnou het, met haar gestoei het, en uiteindelik gebyt het.

Volgens haar het sy dit as haar “plig” gesien om die “publiek en staatsbeamptes in die kantoor te beskerm,” en het sy hiervoor die man probeer stopsit deur hom op die grond vas te pen asook om lede van die publiek na buite te vergesel.

Die man was blykbaar reeds omgekrap toe hy die kantoor vir die eerste keer betree het.

Die Paarl-polisie is na die toneel ontbied en die verdagte is van die perseel verwyder. Valentine het intussen ’n saak teen hom aanhangig gemaak.

Mavuso het bevestig dat sekuriteit tydens die voorval teenwoordig was, maar dat die man se gewelddadige gedrag dit nodig gemaak het dat meer persone moes help om hom te beteuel.

“Sekuriteit het ingegryp, maar die kliënt se gewelddadige gedrag teenoor personeel en ander kliënte het vereis dat meer mense hom moes beteuel,” het hy gesê.

Een werknemer (Valentine) is beseer, terwyl vyf ander personeel volgens Mavuso “geaffekteer” is. Een lid van die publiek is ook beseer.

Die departement van binnelandse sake is tans besig om gepaste sekuriteitsdienste in te stel in belang van die veiligheid van personeel en kliënte.

Die Paarl Post wag nog op amptelike kommentaar van die polisie, wat bygevoeg sal word sodra dit ontvang word.

You need to be Logged In to leave a comment.