Die organiseerders van die VKB Bieliemieliefees staan al gereed om besoekers van Donderdag (23/02) tot Sondag op die feesterrein by Reitz te verwelkom.
Uitstallers se vee is vet gevoer en reg vir skou, pryse vir die verskillende kompetisies waaraan skougangers kan deelneem staan gereed, en die gaskunstenaars kan nie wag om die gehore te vermaak nie.
Die fees word vanjaar ’n 43ste keer aangebied, en dit beloof om alle verwagtinge te oortref met ’n bedrywige program en heelwat uitstallers. Feesgangers kan ongetwyfeld baie meer jolyt verwag as wat gewoonlik in net drie dae ervaar sou word.
Wat in die 1980’s as ’n klein plattelandse skou in Reitz begin is, is vandag die VKB Bieliemieliefees: een van die grootste landbou-, familie- en gemeenskapsfeeste in Suid-Afrika.
Met dié uitbreiding oor die jare heen, is die fees as ’n hoogtepunt op die sosiale kalender gevestig, met sowat 17 000 feesgangers en 140 uitstallers wat by ’n enkele fees betrokke is.
Op die VKB Bieliemieliefees word daar met reg gespog. Die nuutste landboutoerusting en tegnologie word aan skougangers bekendgestel, en boere vertoon hul heel beste vee in die kuddekompetisie, op die ramveiling, in die slaglamkompetisie en ook die beesuitstalling. (Sien bl. 10 vir meer hieroor.)
Op die fees word ook gewaag en gewen.
Mans, en vanjaar ook vroue, meet kragte wanneer hulle mekaar in ’n kompetisie die stryd aansê om te bepaal wie die swaarste vrag wol kan dra. Daar is ook ’n groot prys op die spel vir die een wat die swaarste bul op die fees se gewig reg kan raai.
Feesgangers kan kies om fisiek hul staal te toon met ’n reeks aktiwiteite vir oud en jonk, van heel ernstig tot groot pret. (Sien die berig regs onderaan dié blad.)
Soos nou al tradisie is, bied die uitstallers iets vir feesgangers van alle ouderdomme – van juwele vir Ma tot geweersakke vir Pa en speelgoed vir oud en jonk.
’n Wye verskeidenheid diereprodukte, asook vars en verwerkte produkte, word te koop aangebied.
’n Verskeidenheid kuns, nutsgoedere en unieke artikels is boonop beskikbaar.
Die kosstalletjies bly natuurlik nie agterweë nie. Egte plattelandse kos wat die mond laat water, word voorgesit. (Lees meer op bl. 10.)
Wanneer die kleinspan moeg gespeel is in die pretpark, kan hulle hul gesig laat verf en rustig by die kinderoppassers gaan speel terwyl Ma en Pa skoene uitskop en ontspan.
Die lys van vermaaklikheidskunstenaars wat volgens die program die verhoog gaan betree, beïndruk vanjaar met groot name in die bedryf. (Sien besonderhede hieronder.)
Feesgangers wat nie vir ’n oomblik die Bieliemielie-atmosfeer wil misloop nie, kan vanjaar in styl hier kampeer (“glamping”). Tente, elk met twee beddens, beddegoed, elektrisiteit en ’n lig is beskikbaar.
Dié kampeerders kry vir die hele naweek gratis toegang tot die feesterrein. Skakel 083-395-2640 om plek te bespreek.